Toeriste verras graad 4-klas

Die oorsese toergroep saam met die leerders in Juffrou Rooi se klas by Laerskool Towerkop. Foto: Deon Meyer

Deur Deon Meyer
’N GROEPIE buitelandse toeriste het verlede week leerders van die Laerskool Towerkop op Ladismith se harte behoorlik vinnig laat klop.

Die groep van onder andere Engeland en Italië het met kameras op die skool toegesak net voordat die skool vir die vakansie gesluit het. Hulle het die leerders verras met geskenk­pak­kies met skryfbehoeftes, waarna een van die toe­riste die leerders gevra het om die Volkslied te sing. Die graad vier-tjokkertjies het nie op hulle laat wag nie en losgetrek met Nkosi Sikelel’ iAfrika.

Nolan Nel, ’n bekkige seuntjie het een van die vroue in die groep gevra: “Lyk ’n toeris so? Kan ek ook saam oorsee gaan? Ek wil net vliegtuig vlieg!”

Die besoek het saamgeval met hul klasonderwyser, Petrusia Rooi, se 50ste verjaarsdag.

Die toergids het onderneem om weer in die toekoms die skool te kom besoek as hy weer groepe na Kaapstad neem.

Log in with your credentials

Forgot your details?