Struisie masterchef wenners

Yster Human, adjunk-hoof van die Oudtshoorn Hoërskool, met sy span se wenpot! Foto: Angelique Erasmus

DIE potte het Vrydag behoorlik geprut by die vierde Struisie Master Chef-kompetisie by die Hoërskool Oudtshoorn.

Die uitdaging in die volwasse afdeling van die kompetisie was om ’n heerlike hoenderpot te maak. Daar moes ook brood gebak word en souskluitjies as bykos voorgesit word.

Agt spanne hetmeegeding, vir die gesogte titel met die La Coq in a Pot-span van Yster Human, Marian Swart en William Klopper wat koning gekraai het met hul wenpotjie.

“Ons wil graag al die deelnemers bedank vir hul deelname, en vir al ons beoordelaars vir die tyd wat hul opgeoffer het om die spanne te oordeel,” het Hannelie Human, verbruikerstudie-onderwyser wat die kompetisie gereël het, gesê.

44 laerskoolspanne en 20 hoërskoolspanne het ook in Oktober en begin November aan die kompetisie deelgeneem.

(Deur Angelique Erasmus)