Slaggereed vir die interhoër!

Groot opwinding voor Saterdag

Die kapteins van Langenhoven Gimnasium se eerste spanne . Van links is Bennie Stemmet (rugby), Helette du Plessis (hokkie), Cassidy Lapperts (gholf), Ilke van der Linde (netbal) en Jacques Oosthuizen (seunshokkie). Foto’s: Liesel le Roux

Die Gimmies se dirigente vir Saterdag is voor van links Chrismari Strydom en Marliné Basson, en agter van links Jaundré Rollison, Charné Beyleveld, Wernich Benedell en Ilke van der Linde. Foto verskaf

o.19A Rugby

o.18A meisieshokkie

o.18A Netbal

Gholfspan

o.18A seunshokkie

Dit is weer tyd vir Langenhoven Gimnasium se jaarlikse Interhoër: Saterdag, 18 Augustus Sportvelde: Langenhoven Gimnasium

Deur Liesel le Roux
BY Langenhoven Gimnasium op Oudts­hoorn was die opwinding die afgelope week tasbaar. Die Gimmies berei hulle tans voor vir Saterdag se jaarlikse interhoër-kragmeting teen die spanne van Hoërskool Punt van Mosselbaai.

“Ons is baie positief oor al ons skool se sportspanne. Al die spanne het tot dusver ’n baie goeie seisoen beleef,” sê Stephanus Potgieter, hoof van die skool.

Volgens Potgieter pluk die skool se sportspanne die vrugte van ’n positiewe gees by die skool, die talle kompeterende wedstryde waaraan hulle deelgeneem het en doelgerigte afrigting van die spanne.

“Die kinders se positiewe inge­steldheid, toegewydheid en gereelde bywoning van oefeninge lewer ’n groot bydrae.
Ons motiveer en komplimenteer hulle ook. En dit gaan vir ons nie net oor die wenmotief nie, maar ook oor die vreugde van deelname.”

Potgieter het die publiek uitgenooi om die skool Saterdag te kom ondersteun.

Die Gimmies se Ouer-onderwy­servereniging (OOV) sal sorg dat daar genoeg eet- en drinkgoed te koop is.

• Die eerste sportspanne se kapteins sê dat hulle uitsien na die kragmetings.

Hier is hulle boodskappe:
Cassidy Lapperts (gholf): “Dit is altyd lekker om die interskole-naweek te begin met gholf. Ons sien uit om teen die Visse kragte te meet. Ons wens alle spanne sterkte toe vir die naweek.”

Helette du Plessis (meisieshokkie): “Interskole is die hoogtepunt van almal se jaar. Ons span het hard geoefen en ons sien baie uit na die wedstryd. Mag al die beste spanne wen.”

Jacques Oosthuizen (seunshokkie): “Ons voel goed oor die naweek se wedstryd. Daar was goeie vordering in die span deur die seisoen. Ons wil die naweek die beker vir die vierde jaar in ’n ry huis toe te bring.”

Ilke van der Linde (netbal): “Ons sien al die hele jaar uit na die interskole. Dit is beslis ’n hoogtepunt van die jaar. Ons is baie positief. Sterkte aan al die spanne wat speel en mag die beste spanne wen!”

Bennie Stemmet (rugby): “Die eerste rugbyspan is baie positief oor die naweek. Ons weet Punt het ’n goeie eerste span en ons kanse om te wen, is baie gelyk. Die span met die meeste karakter sal die naweek wen, en ons as eerste span het baie karakter.”

• Die wedstryde begin om 08:30. Die hoofwedstryde van die eerste spanne is om 09:20 (seunshokkie), 11:00 (netbal), 12:00 (meisies­hokkie) en 14:00 (rugby). Die gholf word Vrydagmiddag in Mosselbaai beslis.

Log in with your credentials

Forgot your details?