Skoolspanne van wyd en syd kom na Struisie-toernooi

Deur Higgo Jacobs
OUDTSHOORN gaan die komende langnaweek ’n miernes van aktiwiteit wees wanneer skolerugby-, netbal- en hokkiespanne van dwarsoor die land hierheen kom om aan die Klein Karoo-skolesporttoernooi deel te neem. Die toernooi vind van Vrydag tot Maandag, 27 tot 30 April, op die sportvelde van die Hoërskool Oudts­hoorn plaas.

Die toernooi, voorheen deur K2 geborg, wil sport en sportbande tus­sen mediumgrootte hoërskole be­vorder.

Nie minder nie as twaalf skole gaan mekaar op die rugbyveld die stryd aansê, elf skole pak mekaar op die netbalbaan en nege skole gaan dit op die hokkieveld uitspook.

Die toernooi begin die Saterdag om 08:00 wanneer die netbalspanne van die Struisies en die Hoërskool Cradock op die A-veld teen mekaar te staan kom. Om 10:00 pak die Hoërskool Cradock en die Hoërskool Schoonspruit mekaar op die rugby-veld en om 11:00 speel die Struisies teen die Hoërskool De Kuilen. Net daarna, om 12:00, draf Gimmies uit teen Jim Fouché.

Die hokkiewedstryde begin ook Saterdag om 08:00 met Gimmies en Struisies wat teen mekaar speel.

Oudtshoorniete kan hulself regmaak vir ’n fees van skolesport met skole soos HTS Drostdy van Worcester, die Hoërskool Duineveld van Uping­ton, die Hoërskool Sentraal van Bloemfontein, om maar enkeles te noem, wat hier kom meeding.

Voeg hierby al die beamptes, afrig-ters, skeids­regters, ouers en toeskou-ers wat die langnaweek op die dorp gaan toesak, en dit is duidelik dat res­taurante, gastehuise, hotelle en kos­huise sal moet bontstaan om in almal se behoeftes te voorsien.

• Die volledige programme is op www.oudhs.com beskikbaar.

Log in with your credentials

Forgot your details?