Puik dansprestasie!

Hybre-Ann Hefke

Hybre-Ann Hefke

’N 14-JARIGE leerder van die Hoër-skool Oudtshoorn, Hybre-Ann Hefke, het ’n goue medalje by die onlangse Wê­reldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste (WCOPA) in Los Angeles (VSA) gewen.
Sy is drie weke gelede as lid van die SA span na Los Angeles om Suid-Afrika op die wêreldverhoog in drie dansitems te verteenwoordig en het drie medaljes ontvang: goud in die etniese dansafdeling (solo), silwer in die groepsdans en brons in die Hip-Hop-afdeling (solo).

Hybre-Ann het twee jaar gelede by die dansgroep, Dynamite, op Oudtshoorn aangesluit. Onder die leiding van haar dansafrigter, Nadia du Preez, het sy verlede jaar tydens die SA kampioenspan in Rustenburg vir die wêreldkampioenskap gekwalifi­seer.

Die laaste ses maande was vir Hybre-Ann ’n tyd van toewyding en harde werk om haar behoorlik voor te berei. Sy het, ondanks terugslae soos die verlies van haar oupa, die onlangse diagnose van ’n ernstige oogkwaal (keratokonus) en ’n druk akademiese program bly fokus.

Haar deursettingsvermoë saam met die ondersteuning van haar fa­milie, kerk (St Jude Anglikaans) en goeie vriende het haar deurgedra.

Sy het die afgelope drie maande ter voorbereiding vir haar etniese dansitem, waarin sy die goue medalje gewen het, waardevolle leiding en insette van Shapiro Michaels, ’n dansinstrukteur van Bridgton, gekry.
Hybre-Ann vertel sy het voluit en met passie gewerk vir die goue me­dalje. “Ek het net my hart gaan uitdans en my op die verhoog geniet.”

Log in with your credentials

Forgot your details?