Ouers sit voet neer oor haglike skooltoestande

Ontstelde ouers by Excelsior VGK Primêr Woensdag (bo) en Maandag (links onder). Regs onder is die geslote hek. Foto’s verskaf

Deur Liesel le Roux
PROTESOPTREDE deur ouers by Excelsior VGK Primêr op Calitzdorp teen oorvol klaskamers en te min onderwysers is verby nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gisteraand by ‘n vergadering tussen ouers en die direkteur van die Eden en Sentraal Karoo Onderwysdistrik, Desmond Maarman, ‘n ekstra onderwyspos en klashulpe aan die skool toegeken het.

Volgens Colleen Murphy, ’n lid van die skool se beheerliggaam, is die ouers verlig dat vordering gemaak is in hul gesprekke met die WKOD. Sy sê Maarman het aangedui dat die onderwysers-leerder-ratio weer in September hersien sal word om te bepaal of die skool dalk nog ‘n onderwyspos in 2020 kan bykry.

Ouers van die skool het van Maandag tot Woensdag uit protes die skool se hek gesluit het en nie die personeel of leerders binne toegelaat het nie.

Volgens Murphy is daar in die graad 5-klas 66 leerders wat twee-twee en drie-drie op die skoolbanke in ’n enkele klaskamer moet sit. Sy sê drie onderwysers het ná mekaar opgegee om vir die graad 5-klas te probeer skoolhou – met een van hulle wat te siek geword het om voort te gaan met werk en ’n ander wat ná net drie dae tou opgegooi het.

Die graad 3-klas se 60 leerders gaan in twee klaskamers skool, met die onderwysers wat tussen die twee klasse hardloop om skool te hou.

“Ons weet ons is nie die enigste skool waar daar sulke toestande heers nie, maar dit moet aangespreek word,” sê sy.

“Die skool het 516 leerders met 13 personeellede. Hoewel die gemiddelde onderwyser-leerder-ratio 1:39.6 is, het party klasse meer leerders,” sê Jessica Shelver, ’n woordvoerder van die WKOD.

Shelver sê volgens die distrikskantoor het die skoolhoof nie aansoek gedoen vir addisionele onderwysposte soos hy verlede jaar moes doen nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?