Nuwe kafeteria met gesonde kos!

By die Hoërskool Oudtshoorn se nuwe kafeteria is van links Michaela Fourie, Melanie le Roux van I do Gourmet, Welmarie Klue en Annemari van der Hever.  Foto: Christine Schoeman

Deur Christine Schoeman
’N NUWE kafeteria wat Maandag sy deure by die Hoërskool Oudtshoorn geopen het, wil verseker dat leerders en personeel nie net lekker nie, maar ook gesond kan eet.

Die skool het ’n behoefte geïdentifiseer vir gesonde en lekker kos teen ’n billike prys en die chefs Melanie le Roux en Gerhard Becker genader om die kos voor te berei en by die skool te verkoop.

Leerders, personeel en selfs ouers het nou die opsie om volgraan-wraps en -toebroodjies met vulsels soos geroosterde beesvleis, hoender-en-ma­yonnaise, ham-en-kaas of geroosterde groente, asook volgraan-muffins, koffie, tee en warm sjokoladedrankies vooraf te bestel vir pouses of na skool.

“Dié gesonde kos verseker dat leerders se energievlakke meer volhoubaar is deur die besige skooldag, wat beter konsentrasie tot gevolg het,” sê Kie-Mari Fouché, ’n leerkrag by die skool. “Die probleem met die suikerbelaaide of leë kalorie-kos wat snoepies gewoonlik bied, is dat dit leerders baie energie gee vir ’n kort periode, waarna hul energievlakke drasties afneem en en hulle moeg word.”

Fouché sê omdat almal vooraf in kennis gestel word van wat die dag op die spyskaart sal wees en dit vooraf bestel kan word, verkort dit ook die koopproses en vorder rye vinnig. Die kafeteria het een vasgestelde spyskaart vir elke dag.

Log in with your credentials

Forgot your details?