Lienke se 100%-jaarpunt!

Links: Lienke le Roux by haar wiskundeboeke en trofee wat sy by haar skool se prys­­uitdeling ontvang het. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
BAIE min mense kry dit ooit reg om 100% vir ’n wiskundetoets of ’n wiskunde-eksamen te kry.

Om egter 100% in wiskunde te kry in al drie eksamengeleenthede in een jaar en daarom met ’n jaarpunt van, wel, 100% te spog, is presies wat Lienke le Roux (15) van die Hoërskool Oudts­hoorn vanjaar reggekry het.

Lienke, haar skool se toppresteerder in graad 9, lag net skaam oor dié prestasie.

“Daar is nie geheime maniere om te presteer nie,” sê sy.

“Dit gaan uiteindelik maar net oor harde werk.

“Ek maak net seker ek verstaan my werk en dat ek dit oefen. En dit help as jy ’n wiskunde-onderwyser het soos juffrou Maryna du Toit wat goed kan verduidelik,” sê sy.

Sy raak ernstig. “Dis vir my belangrik dat jy na die beste van jou vermoë moet presteer. Ek wil graag my ouers trots maak en God die eer gee vir my verstand en vermoë om hard te werk.

“Almal doen altyd so baie vir my en dit is net my manier om terug te gee.”

Lienke wat vertel sy speel graag netbal in die winter en swem in die somer, is ook erg oor die gesin se twee honde en vertel dat sy baie lief is vir lees.

Sy en haar gesin het van Oudtshoorn na Kanada verhuis toe sy twee jaar oud was, en weer teruggekeer Oudtshoorn toe aan die einde van haar graad 4-jaar. Haar pa, dr John le Roux, werk steeds in Kanada as mediese praktisyn en kom kuier ’n paar maal per jaar vir sy gesin. Lienke, haar ma, Sarlene, en kleinsus Marisa (8) sien juis daarna uit om hom Desembermaand weer te sien.

Log in with your credentials

Forgot your details?