Langenhoven Gimnasium skitter in die Wes-Kaap

Stephanus Potgieter (skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, tweede van links) ontvang ’n toekenning wat die skool vereer vir sy tweede plek in die Wes-Kaap onder skole met ’n tegniese afdeling van (van links) Alan Winde (Wes-Kaapse Minister van Gemeenskapsveiligheid), Debbie Schäfer (Wes-Kaapse minister van Onderwys) en Brian Schreuder, hoof van Onderwys Wes-Kaap. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn is ver­lede week vereer met ’n toekenning van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) vir die tweede beste skool met ’n tegniese afdeling in die provinsie, gegrond op die matriekuitslae van 2018.

Langenhoven Gimnasium het dié toekenning ontvang op grond van die gemiddelde prestasie van leerders in wiskunde, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, tegniese wetenskap, tegniese wiskunde, elektrisiënswerk, houtbewer­king en pas- en draaiwerk.

“Dié toekenning is vir die skool ’n baie groot eer en ’n aansporing om ons leerders verder te bemagtig om hulle beste te lewer ter voorbereiding vir die wêreld van werk,” sê die hoof, Stephanus Potgieter.

Potgieter sê die prestasie is die gevolg van die harde werk van uiters toegewyde personeellede wat moeite doen dat leerders volgens hul potensiaal presteer.

“Ons leerders word voorberei vir die volwasse lewe wanneer hul studeer en werk. Ons ouerkorps en beheerliggaam ondersteun alle pogings van die skool om akademiese stelsels effektief te laat funksioneer.”

Log in with your credentials

Forgot your details?