Komponis van skoollied en orrelis vereer

Erina Terblanche, bekende orrelis en mu­siekonderwyser van Oudtshoorn, is onlangs by twee geleenthede vereer.  Foto: Liesel le Roux

­Deur Liesel le Roux
’N BEKENDE orrelis, pianis en musiekonderwyser van Oudtshoorn, Erina Terblanche, is onlangs deur Langenhoven Gimnasium en die NG Gemeente Oudtshoorn-Suid vereer vir haar groot bydrae tot musiek op Oudtshoorn.
Terblanche wat die skoollied van Langenhoven Gimnasium gekomponeer het, was sedert 1983 onderwyser by Langenhoven Hoërskool (die voormalige handelskool).

Na die samesmelting met die Hoër Tegniese Skool was sy musiekonderwyseres en koorleier by die nuwe Langenhoven Gimnasium totdat die onderwysdepartement die betrokke pos in 1996 afgeskaf het.

Terblanche bied steeds privaat-musieklesse aan en is welbekend op Oudtshorn en in die omgewing as begeleier en orrelis.
Sy beskik oor drie lisensiate in musiek, die graad B Mus (cum laude) M Mus en die finale Unisa-kwalifikasie in orrel.

By die oorhandiging van ’n eretoekenning aan Terblanche by die skool het die hoof, Stephanus Potgieter, haar bedank vir haar bydrae.

“Wat heel moontlik as haar grootste bydrae beskou kan word, is die waarde wat sy toegevoeg het tot die lewens van leerders wat by haar musiek geneem het. Baie van hulle het uitstekend presteer en volg ook loopbane in musiek. Selfs internasionale en nasionaal bekende musici het hul musiekloopbane onder haar leiding begin,” het Potgieter gesê.

Terblanche, wat sedert 1997 orrelis by die NG Gemeente Oudtshoorn-Suid is, het ook ’n sertifikaat van die gemeente ontvang as erkenning vir haar diens oor die afgelope 21 jaar.

Log in with your credentials

Forgot your details?