Gimmies skitter by feeste!

Zandre Eksteen en Karla Marais, in aksie op die verhoog. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
SEWE leerders van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn het die afgelope tyd uitgeblink by twee toneelfeeste, onderskeidelik op Fraserburg en Montagu en groot lof van die beoordelaars ontvang.

Die groep het agt goue toekenings en vier silwer toekennings met hul toneelstuk, Paulina se probleem, vanaf die Montagu Music, Art, Dance and Drama Festival (MMADD) huis toe gebring.

Goue toekennings het gegaan aan Cyril Clarke, toneelonderwyser en regisseur, aan die jong akteurs Marizanne Venter, Karla Marais en Zandre Eksteen terwyl die stuk se klank, rekwisiete, kostuums en dekor ook elk met ’n goue toekenning bekroon is.

By die Logan Toneelfees op Fraserburg het die groep twee silwer en twee brons toekennings gekry.

Die beoordelaars by beide feeste was bekende akteurs en toneelkenners. By die Logan Toneelfees is die beoordelaarstoele gevul deur Waldimar Schultz, Vilje Maritz en Ilne Fourie, terwyl die beoordelaars by MMADD Karen Jeynes, Susan Diepeveen en Godfrey Johnson was.

Die Gimmies wat in die stuk speel, is Zandre Eksteen (graad 12), Marizanne Venter en Karla Marais (graad 10), Ricus van Wyk en PJ le Roux (graad 9), en Stacy-Leigh Lourens en Anri van der Westhuizen (graad 8).

“Beide hierdie toneelfeeste is provinsiale feeste en trek spelers van ver buite die provinsie waarin hulle plaasvind,” sê Clarke.

Hoër- en laerskole neem aan beide feeste deel.

Log in with your credentials

Forgot your details?