Geliefde skoolhoof gegroet

John Steyn, tot onlangs skoolhoof van Prins Albert Primêr, en sy vrou, Katy, stap deur ’n erewag van leerders op Steyn se laaste dag by die skool. Foto: Barry Lamprecht

Deur Marlene Malan
TOE Prins Albert Primêr einde verlede kwartaal van hul hoof, John Steyn, afskeid geneem het, was dit ’n hartseergeleentheid – terselfdertyd ook ’n dag van viering van dié besondere man se jarelange bydrae tot die skool, sy leerders, onderwysers, ouers en die hele Prins Albert.

Want Steyn het – sedert hy in die jare tagtig by die skool aangesluit het, waarvan hy die afgelope 21 jaar skoolhoof was – diep spore in die hele gemeenskap getrap, het sy kollegas op dié dag gesê. Hy was die onwrikbare, gesdriftige leier; die man met ’n oor en hart vir sy personeel en leerders.

Hy was ’n hoof na wie opgesien kon word, in wie vertroue gestel is en die voorloper by wie almal veilig gevoel het. Hy het die vordering en huisomstandighede van sy leerders en sy kollegas geken en verstaan, en hy het altyd die groter prent­jie gesien. Hy was iemand wat op oplossings gefokus het, eerder as probleme – wat eerder aandag gegee het aan die oorsake as die simptome van moeilike kwessies.

Personeellede met wie Die Hoorn gesels het, het gesê hulle gun Steyn en sy vrou, Katy, ’n gelukkige nuwe aftreefase.

“Maar dit sal moeilik wees om iemand met sy kwaliteite te vervang,” volgens ’n onderwyser, Diana Koorts.

Die verloop van die laaste skooldag van die eerste kwartaal was vir Steyn ’n verrassing: Daar was ’n saal vol blomme, ’n erewag van leerders, die loslaat van 21 duiwe en verrassingspakkies vir leerders.

Steyn het self erken dat dié dag vir hom een van die moeilikstes in sy lewe is, maar dat sy betrokkenheid by Prins Albert Primêr deur niks oortref kan word nie. Dié skool was sy eerste en laaste skool in sy onderwysloopbaan. Steyn, oorspronklik van Fraserburg, het 34 jaar gelede as jong onderwyser hier aangesluit en is in 1997 as hoof aangestel.

“Vandeesweek, met die opening van die skole vir die tweede kwartaal, is vir mnr Steyn baie moeilik. Hy het vir ons gesê hy wil liewer nie hier wees wanneer al die kinders weer skool toe gaan nie. Maar hy sal altyd ’n Prins Alberter bly en sal sy aftrede hier geniet,” het nog ’n onderwyser, Mutilda Mooneys, by navraag gesê. “Wat vir my van hom uitstaan is sy onwrikbare geloof. Hy stel die Skepper eerste in alles wat hy aanpak. Hy is ’n man met empatie wat moeite doen om na jou te luister. Vir hom was sy personeel nie net werknemers nie, maar mense vir wie hy persoonlik omgegee het. Hy kyk nie net na kinders as leerders nie, maar neem hul volledige omstandighede in ag. En dan was hy die topwiskundeonderwyser wat selfs oorsee kursusse in sy vakrigting gevolg het.”

Jakoba Visagie, ’n vriendin en deeltydse onderwyser, vertel van haar lang verbintenis met Steyn. “Ek ken hom van laerskooldae af, toe ons sport teen Fraserburg se kinders gespeel het. Dis nog ’n ding van John – hy is baie sportief. John is ’n staatmaker wat moeilik vervang gaan word.”

Sammy Delport, adjunkhoof, asook departementshoofde van die skool, neem vanaf die tweede kwartaal om die beurt as skoolhoof waar totdat ’n nuwe hoof in Steyn se plek aangestel is. Die pos is reeds geadverteer.

Log in with your credentials

Forgot your details?