Thelisha toegelaat as prokureur

Vaughn Shone, Thelisha Piedt en Christo van der Bergh. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N BLINK toekoms lê vir Thelisha Piedt (25) van Oudtshoorn voor nadat sy onlangs toegelaat is as prokureur.

Piedt, ’n gebore Oudtshoorniet, het in 2017 by Coetzee en Van der Bergh, ’n pro­ku­reursfirma aangesluit waar sy haar klerkskap as prokureur voltooi het.

“Die beste gedeelte van my dag is wanneer my afsprake begin. Ek kan net ’n oor wees vir mense, want soms is dit al wat hulle nodig het,” sê Piedt.

Sy is reeds ’n bekende gesig in die Oudtshoorn Landdroshof se gange, waar sy aan verskeie sake werk.

“Ek is mal oor siviele sake. Ek hou van ’n uitdaging, en soms is siviele sake baie tegnies en ingewikkeld,” vertel sy.

Piedt vertel sy het as kind die rol van landdros vertolk wanneer sy met haar maats gespeel het. Sy het aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer, en in 2016 die LLB-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi.

Sy het op kampus uitgeblink deur haar graad in ’n rekordtyd van vier jaar cum laude te slaag.
Piedt, wat aktief betrokke is in haar gemeenskap, hou daarvan om met mense te werk. “Spanwerk is een van my sterkste punte,” sê sy.

Volgens haar was haar interessantste saak tot dusver ook haar eerste, die borgaansoek van Samuel Orame, ’n buitelander. “Dit was ’n ingewikkelde aansoek omdat immigrasiewetgewing hier van toespassing was.”

Vaughn Shone, een van die firma se di­rek­teure, sê hulle is opgewonde om ’n jong dinamiese vrou voltyds as deel van hul span te hê.

“Ek love haar! Sy sit beslis ’n glimlag in my dag,” sê Christo van der Bergh, ook ’n direkteur van die regsfirma oor Piedt.

Piedt sê sy leef elke dag die volgende motto voluit: Laywers are not hired guns, but the foot soldiers of the constitution, whose ultimate role is to administer justice, and they need to do it with the highest standard of integrity.

Log in with your credentials

Forgot your details?