Talle droogtewenke by Swan’s se 40ste verjaardag

Deur Liesel le Roux
DIE mens en plante is baie aanpasbaar en daarom ook in staat om aan te pas by droogtetoestande, het Henk Meyer, handelsbestuurder van die groothandel-kwekery Malanseuns, Saterdag by die 40ste verjaardag­vieringe van Swan’s Kwekery op Oudtshoorn gesê.

Die huidige droogte in die Klein Karoo is deur talle sprekers by die oggendbyeenkoms aangeraak met wenke en raad hoe om steeds in droë omstandighede tuin te maak.

Henk het mense aangemoedig om by kwekerye te gaan kyk watter wye verskeidenheid vetplante deesdae beskikbaar is, en voorts beddings te bedek met ’n 2 cm-laag afgebreekte materiaal soos doppe, houtskaafsels of bas.

“Afgebreekte materiaal het twee funksies – dit hou onkruid uit jou tuin uit en dit help ook om vog in die grond te hou.”

Ander wenke van Henk om te ont­hou tydens droogtetye is die volgende:

• Dit is nie nodig om meer as 12 mm se water op ’n natleislag toe te dien nie. Plaas ’n reënmeter in jou bedding om dit te meet as jy kan besproei.

• Daar is ’n poeieroplossing op die mark wat 300 keer sy gewig in water absorbeer en in beddings ingemeng kan word. Dié mengsel help dat plante nie so dikwels water gegee moet word nie en is ideaal as mense vir ’n tyd lank van hul huise weggaan.

Henties de Villiers van Swan’s Kwekery het op sy beurt teenwoor­diges die volgende raad gegee oor die gebruik van gryswater tydens die droogte in hul tuine:

• Gryswater moet nie langer as 24 uur geberg word nie omdat dit dan begin sleg ruik.

• Daar is ’n stelsel op die mark wat by jou huis geïnstalleer kan word en die water van jou stort, bad en ook wasmasjien na jou tuin gelei.

Volgens Henties gebruik hy dit self in sy voortuin en werk dit baie goed.

“Jy sal verbaas wees hoeveel water jy elke dag laat wegloop. Ont­hou elke druppel tel,” het hy bygevoeg.

Henties waarsku eg­ter dat skottelgoedwater nie geskik is om tuine mee nat te maak nie.

Dit is ook belangrik om nie net gryswater in ’n tuin gebruik nie, maar dit af te wissel met skoon water.

Log in with your credentials

Forgot your details?