Nuwe bestuurder wil by dorp betrokke raak

Morné Els, die nuwe bestuurder van Oudts­hoorn Ford. Foto: Christine Schoeman

Deur Angelique Erasmus
HY is man met ’n passie vir die gemeenskap van Oudtshoorn, kwessies wat die dorp raak en veral vir sy medemens.

Morné Els, wat jarelange ondervinding in die motorbedryf het, is terug in Oudtshoorn nadat hy aangestel is as bestuurder van Oudtshoorn Ford. Oudtshoorn Ford se vorige bestuurder, Rudi van Dyk, het vroeër vanjaar met sy gesin na Nieu-Seeland verhuis het.

Els wat in 2015 vir sowat 18 maande in Oudts­hoorn werksaam was, sê hy het gedurende daardie tyd ’n liefde vir dié Karoodorp ontwikkel.

“Toe ek hoor daar gaan ’n pos oop, kon ek nie anders nie as om die geleentheid met altwee hande aan te gryp. Ek is mal oor die dorp,” sê hy.

Hy is ook ’n groot sportliefhebber, en wil graag betrokke raak by projekte waar die gemeenskap, veral ook die straatkinders, deur middel van sport baat sal vind.

Skoolfunksies, sportdae, boereverenigings en die KKNK is nog geleenthede waarby hy en sy besigheid graag betrokke wil raak.

Hy vertel Ford het onlangs ’n voertuig en petrol geborg van ’n plaaslike skopboksspan toe befondsing ’n probleem was.

“Ons sal graag meer by sulke geleenthede betrokke wil raak,” sê Els.

Die motorhandelaar het ook by die onlangse sakeliga-rolbal by die Oudtshoorn Rolbalklub betrokke geraak en die hele span het dit omtrent geniet.

“Ons sien definitief uit na die volgende liga in September.”

Els is verantwoordelik vir die nuwe sowel as tweedehandse motorverkope-afdeling, asook die dienste- en administratiewe afdeling.

Hy is nou betrokke by die dag-tot-dag bestuur van die hele perseel.

Die vulstasie en kiosk met sowat 13 werknemers val ook onder die wakende oog van Els.

“Ek het ’n uitstekende span wat saam met my werk en ek is opgewonde oor die toekoms van ons besigheid,” sê hy.

Log in with your credentials

Forgot your details?