‘Met liefde gemaak’ by Nuts & Coffee

Die eienaar van Nuts & Coffee, Yolanda Cloete (links), saam met haar vriendelike personeel, (van links) Muriel Bosman, Millie Weyers, Melanie Weyers, Magnolia Kammies en Marilise Moos. Foto: Christine Schoeman

KOFFIE, melkskommels in 17 liplekker-geure, mocktails (nie-alkoholiese drankies) en ’n smul­lekker spyskaart is van die redes om te gaan kuier by die nuwe kofffiewinkel Nuts & Coffee Café op Oudts­hoorn.

Dié koffiewinkel met sy houtbakke vol kleurryke blomme en kruie wat jou verwelkom, is in Oktober verlede jaar deur ’n geesdriftige nuwe Oudtshoorniet, Yolanda Cloete, geopen.

Die koffiewinkel en eetplek is in die Queen’s Square (langs Fruit & Veg) geleë, waar Café Soleil voorheen geleë was.

Yolanda het die winkel se voorkoms verander en die spyskaart uitgebrei.

Sy glo dit is belangrik dat Nuts & Coffee verwelkomend en vriendelik moet wees met alles wat daar te eet en te drink is van hoë gehalte.

“Ons kos word met liefde gemaak,” sê sy. “Ons maak ook die meeste self. Ons maak byvoorbeeld self ons pizza-basisse.”

’n Groot deel van haar spyskaart bestaan uit geregte waarvoor sy lief is en wat sy weet mense geniet om te eet. Dit sluit pasta, pizza (met ’n spesiale en gewilde breakfast pizza Saterdagoggende) en ’n verskeidenheid slaaie in.

Kinders kry by dié koffiewinkel boonop hul eie spyskaart wat hulle kan inkleur en huis toe neem. Die spyskaart bied spesiale geregte vir kinders.

Die “Nuts”-deel in die naam van die winkel kom van Yolanda en haar man, Antonn, se betrokkenheid by die macadamiabedryf.

In die restaurant kan ’n proebord met maca­damianeute in verskeie geure bestel word, en is ’n verskeidenheid geure macadamianeute en -olie te koop.

Sy het ook ’n gemeenskapsrak ingerig waar inwoners hul produkte – soos tuisgemaakte konfyt -kan plaas om te verkoop.

Nuts & Coffee is weeksdae oop van 08:00 tot 17:00 en Saterdae van 08:00 tot 14:30.

Log in with your credentials

Forgot your details?