Louvain bied verskeidenheid aktiwiteite

Die pragtige ou hoofopstal, Homestead, op Louvain Gasteplaas. Omvattende opknappings is gedoen nadat Louvain nuwe eienaars gekry het.

The Dairy wat ’n mooi uitsig oor die plaas en die Outeniquaberge bied.

Die geskiedenisryke ou klipkerkie op Louvain Gasteplaas.

SEDERT Louvain Gasteplaas in die Bo-Langkloof, wat ’n wye verskeidenheid buitelugaktiwiteite aanbied, deur Lang-kloof Plase (Edms) Bpk oorgeneem is, is omvattende verbeterings en opknappings aan die verblyf- en onthaalgeriewe op die plaas aangebring.

Langkloof Plase behoort aan die Jonker- familie en Piet Botha Schoeman en gesin. Saag Jonker, sy seun Hein en Schoeman is die direkteure van Langkloof Plase.

Ná die opknapping bied Louvain nou luukse-verblyf aan altesame 59 gaste op die plaas. Luukse-tente is beskikbaar op aanvraag. Daar is ook ’n boskampeerterrein vir diegene wat van uitkamp hou.

Louvain is in Augustus deur Johan Badenhorst en sy Voetsporespan besoek waarna hulle ’n program oor die plaas gebeeldsend het. Hy beplan om die plaas weer in Maart 2020 te besoek.

Benewens ’n bestaande onthaallokaal wat tot sowat 100 gaste kan huisves het die nuwe eienaars ’n groot nuwe onthaallo-kaal, wat tot 400 gaste kan huisves, gebou.

Die nuwe lokaal is naby ’n ou klipkerkie van “The Church of St-John-the-Babtist-in-the-Wildernis” wat vir huweliksbevestigings gebruik kan word.

Die geskiedenisryke kerk is op 10 Maart 1854 in gebruik geneem. Bertie “Peregrine” Richardson, wat in 1839 op die plaas begin boer het, het destyds die grond waarop die kerk staan aan die kerk geskenk. Die kerk is deur Sophy Gray, vrou van biskop Robert Gray, ontwerp en deur Skotse klipmesselaars gebou.

Met dié uitsonderlike kerkie leen Louvain hom tot spesiale troues. Die onthaalvenue is ’n klipgooi van die kerkie af.

Die lokaal is ook geskik vir konferensies, weg van die alledaagse gejaag, en groot verjaardag- en ander vieringe.

Die gasteplaas bied ’n wye verskeidenheid buitelugaktiwiteite met talle roetes vir bergfietsry, voetslaan en 4X4, asook hengel, voëlkyk en plaastoere.

Die 4X4-roetes sluit in die geskiedkundige ou ossewaroete oor die Outeniquaberge wat as die Duiwelskoppas be- kend staan. Die roete, wat al sedert die agttiende eeu deur koloniste gebruik is, verbind Louvain noord van die berg met Bergplaas suid van die berg. Die roete bied pragtige uitsigte oor die Bo-Langkloof en die suidelike hange van die Outeniqua-berge tot by die see. Daar is ook ’n 4X4-hindernisbaan op Louvain.

Besoekers aan Louvain kry ook die geleentheid om die plaaslewe te ervaar.

Nog ’n besienswaardigheid op Louvain is rotstekeninge van die San wat die vroegste inwoners van die streek was.

Die verblyfeenhede op Louvain bestaan uit die volgende:

• Homestead, ’n pragtige ou huis met hoë dak en stoepe wat gerieflike slaapplek aan 12 mense bied. Die huis het ’n volle-dige toegeruste kombuis, ruim leefgedeelte en ’n buitebraai. Die Homestead het ook ’n anneks met twee gesinseenhede met badkamers en kombuise wat elk slaapplek aan vier mense bied.

• Fiela se Huis, wat slaapplek aan agt mense in vier en suite slaapkamers bied. Dit het ook ’n oopplan woongedeelte en binnenshuise braai.

• The Dairy, wat slaapplek aan 10 mense in onder meer twee en suite slaapkamers bied. Die woongedeelte sluit die kombuis en ’n kaggel in. ’n Ruim veranda met glasdeure rondom bied ’n pragtige uitsig oor die omgewing.

• The Stables, wat bestaan uit sewe slaapeenheide wat elk slaapplek aan drie mense bied. Elke eenheid het ’n badkamer en kombuisgeriewe met ’n buitebraai.

Vir meer inligting oor Louvain en wat dit alles bied, besoek gerus die gasteplaas se webtuiste by www.louvain.co.za.

Vir navrae kontak Alida Serfontein, bemarker, by 0660203181 / 0445180015 of alida@louvain.co.za. Vir besprekings kontak Michael Wood by 0445180015 of guestfarm@louvain.co.za.

Bo: Die ingang na Louvain Gasteplaas. Die ingang is langs die teerpad tussen Geoge en Uniondale.
Onder: Een van die pragtige uitsigte oor die Outeniquaberge vanaf die Ou Ossewaroete, ’n 4X4-roete oor die Outeniqua-berge wat Louvain met Bergplaas verbind.