Kwekery is ’n passie wat hy uitleef!

Die span van Swan’s Kwekery is van links Henties en Yolandé de Villiers, Charlie en Elmien Swanepoel, Yolandé Lourens, Ludwig en Elbie Swanepoel (agter), Thea Oosthuizen en Dawid Hendriks.

Swan’s Kwekery het sy ontstaan op 1 April 1979 gehad toe hy dit as ’n stok-perdjie begin het, vertel Charlie Swanepoel, eienaar van die kwekery.

Hy het destyds by die Oudtshoorn Munisipaliteit gewerk en begin om vetplante aan die voorkant van Swan’s Hardeware in Hoogstraat uit te stal en te verkoop.

Drie maande later het hy ’n perseel van sowat 40 vk meter oorkant die straat agter die Biltongman Slaghuis gehuur waar hy die kwekery losstaande begin het. Benewens die vetplante het hy 100 plante aangekoop, tien elk van tien soorte plante.

Swan’s Kwekery het in November 1979 na sy huidige perseel verskuif.

Dawid Hendrikse, wat nou nog in diens van Swan’s Kwekery is, het 16 Februarie 1982 daar begin werk. Hy het toe al die verkope hanteer asook die kleinkas. Hy het ook die kwekery netjies gehou.

Swanepoel se vrou, Elmien, was van die beginjare in ’n administratiewe hoeda-nigheid by Swan’s Kwekery betrokke, en doen deesdae ook die boekhouding.

Swanepoel het eers in Julie 1993 self voltyds by die kwekery begin werk. Sy dogter, Yolandé de Villiers het dieselfde jaar daar begin werk. Haar man, Henties, het twee jaar later by hulle aangesluit.

Kort daarna het hulle benewens tuine uitlê ook met tuin­dienste begin en besproeiingstelsels begin installeer.

Swanepoel se seun, Ludwig, wat ’n bosboukursus by Saasveld voltooi het, het in 2005 ook sy kragte by dié familiebesigheid kom ingooi.

In 2007 het Swan’s Kwekery ’n tak op Hartenbos begin. “Ons kweek deesdae die meeste van ons eie plante daar,” sê hy.

Volgens Swanepoel het dit nog nie een dag vir hom gevoel of hy werk nie omdat hy ’n passie vir plante het wat hy uitleef.

Hy vertel hy ploeg voortdurend van Swan’s se winste terug in die besigheid en hy en sy span bly ook voortdurend op hoogte van die jongste ontwikkelinge in die tuinboubedryf deur onder meer tuinbouskoue by te woon.

Vir hom is dit belangrik om goeie ban­de met sy verskaffers te hê. Dit is ook duidelik dat sy verskaffers groot waardering vir hom en sy span het.

Laastens maar nie die minste nie, bedank Swanepoel al sy lojale kliënte oor die jare. Hy nooi kliënte uit om Saterdag ’n spesiale ope dag by Swan’s Kwekery te kom bywoon om hul 40ste verjaardag te vier.

Log in with your credentials

Forgot your details?