Jemima’s – 20 jaar op Oudtshoorn!

Debbie en Pierre Malherbe, eienaars van Jemima’s Restaurant. Foto verskaf

HULLE is werklik geseënd dat Jemima’s Restaurant vanjaar sy 20ste verjaarsdag op Oudtshoorn kan vier, sê Pierre Malherbe, saam met sy vrou, Debbie, die eienaars van dié bekende baken op die dorp.

“Ons is bevoorreg en dankbaar om Jemima’s op Oudtshoorn te besit en te bestuur. Ons het net respek vir ons dorp Oudtshoorn en vir sy inwo­ners.

“Vir twintig jaar het die inwoners van Oudts­hoorn en die dorpe in die omgewing ons goed ondersteun, terwyl gastehuise en hotelle almal hul internasionale en plaaslike gaste na ons gestuur het.

“Ons wil vir almal wat ons ondersteun het, baie dankie sê.”

Pierre en Debbie het besluit om hierdie 20 jaar-mylpaal te vier met verskeie spesiale aanbiedinge vir gaste by die restaurant tot in Augustus vanjaar.

“Ons nooi almal – ook diegene wat nog nie by Jemima’s geëet het nie – om tot Augustus ons twintigste verjaarsdag saam met ons kom vier.

“Kom loer in en kom klink ’n glasie wyn saam met ons!”

Die spesiale aanbiedings verskyn in ’n advertensie onderaan hierdie bladsy.

Pierre en Debbie sê hulle wil ook al hul verskaffers bedank vir die jare se uitstekende diens.

“Ons is trots om Oudtshoorniete te wees en trots om as ambassadeurs van Oudtshoorn kos voor te sit vir plaaslike en internasionale gaste.”

• Saam met dié 20 jaar-mylpaal wat Jemima’s pas bereik het, het Pierre en Debbie ook die naweek die goeie nuus gekry dat The Bright House – die gastehuis met sy interessante en kreatiewe interieur wat hulle agter Jemima’s gebou het – pas deur die Toerisme-graderingsraad met vyf sterre bekroon is!

“Dit is fantastiese nuus waaroor ons baie opgewonde is,” sê Pierre. “Ons is trots dat ons met dié gastehuis ’n bydrae tot toerisme op Oudtshoorn kan lewer.”

Log in with your credentials

Forgot your details?