Fantastiese Voortrekkerweg

Deur Angelique Erasmus
DIE lewensaar van Oudtshoorn noem baie dié straat – ’n uitdrukking wat mens met ander oë na Voortrekkerweg laat kyk.

Voortrekkerweg spog met ’n uiteenlopende verskeidenheid besighede, ou en nuwe geboue, woonstelle en groot huise. Dit is die straat met besigheidspersele, vulstasies, supermarkte, en selfs Oudtshoorn se enigste inkopiesentrum, die Queen’s Mall.

Verskeie van die permanente kunswerke wat die afgelope twee jaar deur Absa en die KNNK in die dorp geïnstalleer is as deel vandie Maakit Mooi-projek is in dié straat – geleë tussen die De Jager Sprotstadion en Baron van Reedestraat.

Voortrekkerweg is die straat waarmee besoekers Oudts­hoorn vanuit die ooste- en die westekant binnery.

Dit is hieroor belangrik dat dié pad en sy sypaadjies goed onderhou moet word.

Die Hoorn het gaan kers opsteek by die Oudts­hoorn Munisipaliteit oor opgraderings- en instandhoudingswerk aan die pad wat tans gedoen word of wat reeds goedgekeur is.

Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, vind die volgende tans plaas:
• Algemene onderhoud aan slaggate.

• Herstel van areas waar pype gebars het.

• Die verf van verkeerstrepe en ander ver­keersaandui­dings op die pad.

• Herstel of vervanging van padtekens waar nodig of weg.

• Die installasie van optiese kabels vanaf Langenhovenweg tot in Adderleystraat.

• Rehabilitasie van die hoofpad tussen Oudts­hoorn en De Rust.
Oliphant sê dié werk aan die pad vorder goed sedert die nuwe kontrakteur verlede jaar oorgeneem het.

Die vorige kontrakteur het einde Desember 2017 werk aan die pad gestaak en is in Januarie 2018 gelikwideer nadat sakeredding nie geslaag het nie.

Rehabilitasie op hierdie stuk pad binne Oudts­hoorn sluit die volgende in:
• Gedeeltes van die pad word wyer gemaak.

• Seël van gedeeltes van die pad

• Die opgradering van stormwater-infrastruktuur onder die pad.

• Die herstel en opgradering van die brug naby die ingang van Oudtshoorn vanaf De Rust.

• Die aanbring van sypaadjies aan die suidekant van die hoofpad.

• Daar word ook gewerk aan die opgradering van die kruising by die Oudtshoorn Begraafplaas.
Dit sluit die bou van glipbane in.

Log in with your credentials

Forgot your details?