‘Ek het ’n droom gehad en dit is bewaarheid’ – Rika Venter

Rika Venter van Oudtshoorn wat die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue 30 jaar gelede op die been gebring het, saam met ander presidente van die raad wat einde Oktober die 30 jaar-vieringe in Centurion bygewoon het. Van links is Melinda Stark, Hermine Lourens, Erna Pretorius, Rika Venter, Winda Austin-Loeve, Elise Coetser, Hester du Bruyn and Cerita Nagy.  Foto: Ironrose Photography

Deur Liesel le Roux
SY is trots op die pad wat die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue die afgelope 30 jaar geloop het, sê Rika Venter (84) van Oudtshoorn. Venter het dié eerste sakekamer vir Suid-Afri­kaanse vroue 30 jaar gelede op 7 Desember 1988 gestig en was ook die eerste president daarvan.

Die liggaam het einde Oktober sy 30ste jaar feestelik gevier tydens ’n byeenkoms van voormalige presidente, wenners van die gesogte Sakevrou van die Jaar-toekenning en lede by die Leriba Hotel en Spa in Centurion.

Venter en haar man, Thinus, het in 2012 van George, waar hulle die eienaars van die Artistico Kunsgalery was, na Oudtshoorn verhuis.

Sy was ook die eerste vrou wat in die hoofbestuur en dagbestuur van die AHI gedien het asook in die dagbestuur van die Johannesburg Afrikaanse Sakekamer (JAS).

“Ek het ’n droom gehad en daardie droom is bewaarheid,” sê Venter oor die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue wat in ’n tyd­vak ontstaan het toe die sakewêreld nog ’n manswêreld was.

“Gedurende die 1980’s moes vroue die moue oprol en hulle mans en hulle huishoudings ondersteun.

“Dit was ’n wonderlike ervaring om te sien hoe begaaf vroue was en hoeveel vroue ontdek het dat hulle eintlik entrepreneurs was.

“Vroue het mekaar begin ondersteun.

“Hulle het betrokke geraak by alle soorte besighede, hul vlerke gesprei; prokureurs geword, hul eie paneelklopbesighede, staalmaatskappye en vele meer gekoop en bestuur.”

Log in with your credentials

Forgot your details?