De Lange Slaghuis vier 60 jaar!

Rauch van Rensburg, eienaar van De Lange Slaghuis, saam met die personeel van die slaghuis, van links Thys Goliath, Tanya Olivier, Magdalene Jafta en August Baartman. Cecile Carol Moses was afwesig met die neem van die foto. Foto: Schalk le Roux
Hannes van Rensburg, Thinus van Rensburg en Maryke van Rensburg

* Promosie

DE LANGE SLAGHUIS op Oudtshoorn is ’n volle 60 jaar oud!
Gedurende 1959 het Hannes van Rensburg en ’n vriend, ’n mnr Joubert, besluit om De Lange Slaghuis van Ben de Lange te koop. Uit respek vir hom het hulle die naam behou.
Met die verloop van tyd het Hannes besluit om mnr Joubert uit te koop en het hy alleen voortgegaan om dié gewilde en goed ondersteunde slaghuis te bedryf.
Sy vrou, Helen, het op die perseel langsaan, wat op die dieselfde erf as die slaghuis is, die welbekende Stywe Lyne Vissery bedryf.
Na haar heengaan het hulle die winkel begin verhuur.
Later jare het Hannes se seun, Thinus, by die slaghuis aangesluit en in 1999 ook Thinus se seun, Rauch.
Rauch is tans die eienaar van De Lange Slaghuis terwyl Thinus sy ander onderneming, Klein Karoo Rooivleis Abattoir, bedryf.
Rauch se ma, Maryke, het vir jare die slaghuis se finansies hanteer, maar het in 2014 uitgetree.
Die huidige personeel bestaan uit Thys Goliath, Magdalene Jaftha, August Baartman en Tanya Olivier wat verantwoordelikheid is vir die finansies.
Hulle, asook die personeel wat deur die jare by die slaghuis gewerk het, het saamgebou aan dié besonderse besigheid wat bekend is vir sy goeie diens.
Die slaghuis is ook bekend vir die uitstekende gehalte van sy vleis wat gereelde kliënte altyd weer laat terugkeer.
De Lange Slaghuis het oor die jare heelwat vermag en baie teruggeploeg in die gemeenskap deur byvoorbeeld skenkings soos waterskenkings aan Beaufort-Wes ’n aantal jare gelede, gelukwensinge, en nog vele meer.
Volgens Rauch was daar oor die jare ook altyd die lekker humor, grappe en gelag onder familielede. “Dit was nie altyd maklik nie, maar die genade van Bo en almal se getroue ondersteuning het ons nog altyd gedra. Baie dankie daarvoor!”
• De Lange Slaghuis is in Uniestraat geleë (ingang na Uniestraat oorkant Woolworths). Hul kontaknommer is 044 272 2631.