Ons gaan Vic Falls toe

Deur Johan Strasheim

Dit is Vrydag 5 Februarie 1999 en ons is op pad Vic Falls toe vir die naweek. Dit is nasomer en sommer lekker warm in Pretoria. Daardie dae het Wonderboom Lughawe nog Doeane en Immigrasie gehad voor die regering in sy ge­bruiklike oneindige wysheid later daar­die jaar die lughawe se internasionale status teruggetrek het.

Nou ja, die Malibu Mirage ZS-NTH was gereed en reeds vol brandstof gegooi. Ons het die kinders by die skool gekry en is reguit lughawe toe om nog dieselfde aand in Zimbabwe by die Elep­hant Hills Hotel te wees. Planne is gewoonlik perfek, is dit nie?

Dit is nie ideaal om in die somer in die middag noorde toe te vlieg nie weens die hoë temperature en gebruiklike donderstorms op pad, maar nou ja.

Die opstyg en uitklim was roetine en sommer gou sit ons op FL220 (dit is 22 000 voet bo seevlak) rustig en dink aan die naweek wat voorlê. Dit is ’n vlug van nagenoeg 900 kilometer wat met die Malibu so twee ure behoort te duur… soos die spreekwoordelike Engelsman sê: “All things being equal”.

Dit is natuurlik selde die geval.

Die roete trek verrassend vêr na “links” op die kaart en gaan ’n hele ent wes van Ellisras verby om die Lim­poporivier – en die Botswana-grens – na so 45 minute se vlieg oor te steek. Vandaar loop die roete “regs” van die Kgaligadipanne verby en jy gaan Zimbabwe binne wes van die beroemde Hwange

Nasionale Park met so 160 kilometer om te gaan.

Dit is toe net daar wat die middag se “pret” begin.

Ons loop ons vas teen ’n lyn reusagtige donderstorms wat van vêr noordwes in Angola strek tot in die Limpopo Provinsie. Dit is in sulke situasies waar vlieëniers werklik hard werk vir hulle geld. Dis nou as hulle betaal word!

Die weerradar is ’n vrugteslaai van kleur en ek probeer kyk waar daar deurkomkans is.

Die protokol is gewoonlik dat jy vir lugverkeerbeheer vra vir ’n afwyking om om die donderstormselle te probeer kom.

Ek begin maar met die eerste van ’n paar sulke versoeke die middag: “Gaberone Control, November Tango Hotel requesting 30 degree left of track for weather.”

Dit word summier goedgekeur en ons draai 30 grade na links, want ouens wat vlieg, reken in sulke gevalle “west is best!”. Nogal nie heeltemal onwaar nie.

Die 30 grade verlig die druk so ’n bie­tjie vir ’n paar minute, maar ons vlieg al hoe verder weg van waarheen ons eintlik wil gaan en dit laat die handpalms maar sweet. Vir ’n oomblik beny jy die kommersiële vlieëniers wat twee-twee vlieg. Hier sit ek nou, soos kiepie, alleen met Moeder Natuur wat haar beste doen om ons naweek op te voeter.

In ’n stadium sien ek vlugtig die Kgaligadipanne deur die regtervenster… Dit beteken ons is omtrent 120 kilometer verder wes as waar ek graag sou wou wees! Ek het geleer dat mens soms probleme moet uitlos en dan gaan hulle weg … maar net soms! Dit het ek ook geleer. Terwyl ek nog sit en kopkrap sien ek dat die reuse wolke ’n baie groot gaping na regs het en druk die Malibu se neus in daardie rigting, wat presies die rigting is wat ek wil vlieg.

Die spul wolkmassas begin onge­lukkig weer toemaak om ons en ek soek op die radar die plek wat die minste ernstig lyk, vra vir toestemming om te begin daal vir ons bestemming, en daar gaan ons…

Sommer gou is ons binne in die wit wolke in en die weerradar is my oë en ore. Dit is spierwit om ons, maar dit word al gryser en donkerder. Omtrent soos jou gemoed wanneer dit gebeur!

Dit skommel en stamp en ek is ’n bondel konsentrasie. En toe begin dit reën, steeds binne-in die wolke … eers liggies en toe al hoe harder soos ons laer daal.

Solank dit net nie hael nie, is alles han­teerbaar. Nou ja, dit raas dat dit vrek, maar soos met alles in die lewe weet ek dit sal die een of ander tyd ophou en laat ek almal weet sodat hulle nie te veel bekommer nie.

Wat voel soos ’n ewigheid later, praat ek uiteindelik met die beheertoring by Vic Falls. Uiteindelik papnat uit die wolke uit (ek, nie die vliegtuig nie) om te land, so 30 minute later as verwag; baie verlig en baie bly om weer op die grond te wees. Ons het die Malibu parkeer, ons bagasie uitgehaal en is heel opgeruimd die terminaalgebou binne om die roetine doeane en immigrasie deur te draf.

Voor by die gebou uit en daar staan ek met my familie daar in die Afrika-laatmiddagson en wonder waarom dit so stil is. Dit is verlate en daar is geen taxi’s nie. Nie ’n enkele stukkie vervoer hotel toe nie.

Net in Afrika…

Ons vind uit die lughawe is pas gesluit en daar kom geen verdere lug­- diensvlugte in nie – dus geen passasiers nie. Na ’n bietjie oortuiging is ons saam met die doaneman wat ons by die hotel gaan aflaai het teen ’n klein betaling.

Nie te lank nie, of ons maak al weer herrinneringe waar ons rustig kyk hoe die groot rooi Afrikason oor die mag­tige Zambezirivier en Afrika-bosveld sak. Tyd om oor die dag se dinge te reflekteer – veral dat jy in die somer moet vroeg klaar vlieg en die middae los vir G &T’s op die hotel se stoep!