’n Lang raserige bult-af stap

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit
In my dorp is die hospitaal ’n lang raserige skaduweelose bult-af stap van die lokasie af. Deur die middedorp, oor die rivier, en dan weer bult-op in die stil boomryke straatjie by die grênd mense se huise verby.

Meeste dae sien ’n mens maar ’n storie hospitaal toe stap. ’n Stukkend ge­­-slaande lip wat pronk onder ’n toegeslaande oog, al korrelend met ’n lastige systappie op pad bult op… gewoonlik met ’n ewe trietsige volgeling van die teenoorgestelde geslag wat al kwetsend en verwytend agternakom.

Soms sien ’n mens kleintjies wat huilend moet aankom op beentjies wat nog net liniaaltjies lank is, maar vroeg ingeloop moet word in moedelose verstap in.

Of oumas… wat dubbelgevou van ouderdom en verantwoordelikheid hul oorlede kinders se siekes moet aanbring. In arms wat nie meer kan nie, of op bene wat wat nie meer wil nie.

Al die soorte seer van die lewe stap in daai straat op en af…

Maar dis altyd die jong mammas wat met piepklein-dik-toegedraaide baba-bondeltjies terug­stap van die hospitaal af wat die langste by my bly. Babas wat teen middagete al hospitaal toe is, gevang is, en weer op pad is terug lokasie toe, waar die lewe vir hulle sal begin – sonder babyshower of trompetgeskal.

In ’n wêreld waar jy dun sop met ’n vurk moet eet, en laataand-boepmagie-straatstap moet loop agter grootmense aan. Of stofsit moet leer stilsit langs wasgoedheinings saam met vaal-ge­koekte hondemaats.

In my dorp is die hospitaal ’n lang raserige skaduweelose bult-af stap van die lokasie af. Deur die middedorp, oor die rivier, en dan weer bult-op in die stil boomryke straatjie by die grênd mense se huise verby. Hartseer kykgoed wat in strokies­prent-kortstories lang le-wensverhale vertel.

Tot jou sien te seer raak, en jy maar ’n mooi fluweellappie moet gaan haal om oor jou voel te gooi. En vir so ’n paar dae eerder die lang pad werk toe ry… waar gesonde mense met neon tekkies flink stap… sodat hul lywe kan mooi wees vir Desember se lang vakansie by die see.

Be the first to comment on "’n Lang raserige bult-af stap"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*