Die oppe en affe van die lewe

Deur Johan Stasheim

Dit is Maandagaand en die stowwerige dag is agter die rug. Februarie is maar soos gebruiklik hellig warm in die Klein Karoo en die son mergel jou uit.

Ek strompel die huis in teen laaste lig, maak ’n vinnige draai in die TV-kamer om aan te meld en hallo te sê. Die honde lig lui-lui hul koppe op om my te groet en die katte lê òf verder en slaap òf kyk my uitdrukkingloos aan. Dit is meesal wat katte maar doen.

Behalwe ou Kattas… Hy sal nogal met ’n regop stert teen my bene kom skuur en op sy unieke manier sê hy is bly om my te sien. Of om steeds dankie te sê dat ons hom 12 jaar gelede sonder voorbehoud ingeneem het nadat hy by ons voorhek in ’n boks afgelaai is.

Daarna net gou studeerkamer toe om my e-pos te bekyk en te sien of daar iets nuut is wat moet aandag kry. Dan is dit gebruik om ook “die weer te kyk” – op al wat weerwebwerf is.

Boere stel belang in die weer en mense wat vlieg stel belang in die weer. Boere wat vlieg – soos ek – stel natuurlik baie meer belang in die weer en of dit gaan reën! Dit is op die oomblik so droog, jy kyk net of dit gaan reën – die hoeveel is van sekondêre belang.

Terwyl ek iets op my rekenaar soek, kom ek op ’n magdom foto’s af wat daarop gebêre word.

Dit is goed en sleg om die goed te kyk. Die kiekies waarvan Lucas Maree destyds gesing het. Die goeie is al die lekker oomblikke wat vir ewig en altyd vasgelê is om weer na te kyk. Geluk­kige tye.

Daar is darem baie van hulle – op vakansies, verjaardae met spring­kas­tele, matriekdanse (ons s’n ook!), nuwe huise en motors oor die jare, foto’s met ’n Nederlandse windmeul en ’n ander met die Eifeltoring in die agtergrond. Ons het selfs een met die World Trade Centre in New York wat op die berugte 9/11 in puin gelê is, in die agtergrond!

Daar is foto’s van ons kindertjies met tande wat aan die tandmuis opgedra is, rugbyspannetjies en aksiefoto’s, foto’s by die skool en saam met hul maats. In ons tyd was foto’s baie skaarser as deesdae waar almal met ’n selfoon­ka­mera rondloop!

Daar is foto’s saam met oupas en oumas wat al lankal vooruitgegaan het ook. En natuurlik die kleinkinders se hordes foto’s. Jy kyk daarna en dink terug aan dié spesiale dae.

In ’n japtrap is jy jare terug en vasgeknoop aan jou ervaringe en herinne­-ringe. Dit is nogal verslawend.

Soos tjoklits. Net nog een blokkie, net nog een foto.

Tyd staan stil op die foto’s. Soos op die foto’s van my Romana se ma – dierbare skoonma Miratio Nel – wat nou eers onlangs aan die lig gekom het.

Sy was nog jonk – in haar dertigs. Daarop staan sy al te modieus en byderwets aangetrek in onder meer Rome, op ’n groot passasierskip, op Blouberg-strand en by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Sy was ’n baie mooi vrou. Die foto’s is lank gelede geneem, maar ai, so stylvol, regop, sjiek en deftig! Indrukwekkend.

In die laat vyftigs was die in-ding “beehives and bobby socks, diners and ducktails”, maar nie sy nie.

Deesdae trek mense nie meer so mooi en deftig aan nie. Dit is jammer. Geen wonder die jong, lenige

Louis Nel (my skoonpa) met sy Clark Gable-snorretjie was so been-af op haar nie!

Die sleg is dat dit jou laat besef hoe die tyd gevlieg het, want dié tye is verby. Vir altyd.

Wat my elke keer vang, is om die onskuldige gesiggies van al die dierbare katte en honde wat ’n ou oor die jare moes begrawe, te sien. So jammer hulle lewe so kort.

Ek dink aan die strokiesprentjie waar Charlie Brown met sy maatjie Snoopy gesels: “We only live once, Snoopy.”

Waarop Snoopy antwoord: “Wrong! We only die once. We live every day!”

Ai, die “oppe en affe” van die ou lewe darem…

Maar, nou ja, dit is wat die lewe so interessant maak.

Nie so nie?

Louis (32) en Miratio (27) Nel by die Piazza Esedra met sy pragtige spuitfonteine in Rome. (Die piazza se naam is sedertdien verander na die Piazza della Repubblica.)  Foto verskaf

Log in with your credentials

Forgot your details?