Die laaste maande tot 11 November 2018

Deur Reinderd Visser

Teen middel 1918 was dit duidelik dat die momentum van die oorlog besig was om al meer na die kant van die Geallieerdes oor te leun. Die Duitse mag­te se lente-offensief vanaf April 1918 het nie die verwagte suksesse opgelewer nie en vanaf Junie het hulle die wind sterk van voor begin kry.

Die Springbokke het baie van hul manskappe tydens die gevegte in April 1918 by Mesenhoogte verloor en met minder vars troepe beskikbaar, was die brigade gedwing om sy grootte vir vier maande van drie regimente na twee te verklein en het hulle as ’n “composite battalion” bekend gestaan. Daar was egter nog werk om te doen!

Hul volgende opdrag was om die dorpie Meteren in Frankryk, net suid van die Belgiese grens, te verower. Hulle sou die taak saam met die 2nd Royal Scots Fusiliers op die oggend van die 19 Julie aanpak.

Die aanval het vyf voor agt begin en vir eens het die weer saamgespeel en is die troepe nie deur koue of reën of mis of modder getreiter nie. Hulle het, be­ge­lei deur ’n hewige bombardement net voor hulle, hul loopgrawe verlaat en soos ’n geoliede masjien die verskillende teikens vinnig bereik en ingeneem. Die vyand is totaal onkant gevang, groot getalle soldate is krygsge­vangene geneem en voorrade toerus­ting is gebuit. Aan die Springbokke se kant was die ongevalle relatief laag, maar ’n Old Boy van die Oudtshoorn Jongensskool, 2e luitenant Charles Anderson, is tydens die aanvalle ernstig gewond en het aan sy wonde beswyk.

In September 1918 is die brigade tot volsterkte herstel. Hulle is egter geskei van die Skotse 9e Divisie saam met wie hulle die grootste gedeelte van die oorlog in België en Frankryk geveg het. In sy afskeidsbrief skryf die bevelvoer­der van die 9e Divisie:

For two and a half years your Brigade has shared the fortunes of the 9th Division. At Delville Wood, at Arras, at Ypres, in the Somme retreat, and finally at Meteren, it has fully contributed in establishing and maintaining the glorious record of this division. Die Springbokke sou nou saam met die 66ste Divisie beweeg en – sonder om te patrioties te klink – voort­­gaan om hul staal teen die vyand te toon.

Een so ’n voorbeeld was hul optrede in Oktober 1918 by die Franse dorpie Le Cateau aan die Selle, ’n goed bewaak­te ri-vier wat oorgesteek moes word om die vyand aan te val. Die oor­steek van die Selle en stryd wat daarop gevolg het, sou later as een van hul groot gevegte bekend staan. Sommige het dit as ’n onuitvoerbare opdrag be­skou, maar die geskiedenis vertel ’n ander verhaal. Soos Buchan dit beskryf: This day would go down in the annals of the Brigade along with their advance at Third Ypres as a brilliant piece of offensive warfare.

Die soldate het die rivier in die don­ker oorgesteek om vroegoggend op plekke so na as 50 meter van die vyand te lê en wag vir zero-uur. Ironies was ’n digte misbank dié keer hul vriend tydens die aanval omdat dit verhoed het dat die vyand hulle kon sien en bombardeer voor die aanval kon begin.

Die aanval het om vyf oor agt begin en gevegte het die hele dag geduur, en trouens onverpoos deur die nag voort­geduur. Die laaste teikens kon eers die volgende dag ingeneem word. Groot ­hoeveelhede toerusting is ook gebuit en 1 240 vyandige soldate krygsgevange ­ geneem. Die prys was egter duur!

191 Springbokke het gesneuwel of aan hul wonde beswyk, 47 was vermis en byna 1 050 is as gewond aangemeld. Tog sal die veldslag ­ont­hou word as die een waar hulle die byna onmoontlike reggekry het. ’n Engelse brigadier-ge­ne­raal het die volgende geskryf: I shall always look on the capture of the railway embankment north of Le Ca­teau as one of the most astounding feats of the War. It will be good for South Africa to know what a brave part her contingent played in the closing chapter of the Great War.

Na 10 dae van welverdiende rus het die laaste skof van die oorlog vir die Springbokke aangebreek. Die Duitsers was nou in trurat en om die laaste spy­ker in te slaan moes hulle so vinnig as moont­lik agtervolg word. Die Suid-Afrikaners het die reputasie gehad dat hulle effektief was met hierdie tipe van oorlogvoering en het die opdrag gekry om in hul sektor die leiding te neem. Die 1SA Brigade is daarom in ’n mobie­le eenheid omskep.

Die agtervolging van die vyand het die oggend van 10 November 1918 by die Franse dorpie Solre le Chateau be­gin. Die Duitsers het egter gesorg dat hul agtervolgers dit nie maklik gehad het nie. Hul terugtrekking was goed georganiseer, met masjiengeweerneste en kanonne wat die pas van die aanval­lers aansienlik vertraag het. Ten spyte daarvan het hulle goed gevorder, maar is verhoed om die vyand voor hulle die finale doodskoot te gee as gevolg van te min manskappe. 4 000 soldate in Engeland wat gereed was om te gaan help, is teruggehou deur die dodelike griep-epi­demie. Laat die middag van 10 Novem­ber het die opdrag gekom om hulle in te grawe waar hulle was en ’n ver­de­digingslyn te vorm. Die volgende og­gend om tienuur is die boodskap ontvang dat die ­skietstaking om elfuur sal begin: Hostilities will cease at 11:00 today, November 11th. Troops will stand fast on line reached at that time.

Presies om elfuur het dit op alle fron­te stil geword. Die oorlog was ver­by. En so vind ons die Springbokke in die voorste li-nies met die aanvang van die skietstilstand.

Voor ek afsluit, moet ek net van nog ’n Oudtshoorniet vertel wat tydens dié laaste offensiewe sy lewe verloor het: Kapt Joseph Jaffe, ’n mediese dokter wat by die Somerset Light Infantry in­ge­deel was, is op 1 Augustus 1918 tydens aksie noodlottig gewond.

Sy pa was ’n Joodse winkelier wat uit Litaue hom op Oudtshoorn gevestig het.

Dit is binnekort 11 November 2018 – 100 jaar nadat die skietstilstand ’n ein­de gebring het aan die Groot Oorlog van 1914-1918.

Dink daardie dag spesiaal saam met my aan die tiendui­sende Suid-Afrikaners en mense uit die Klein Karoo wat deel was van daardie oorlog en ook die duisende wat uiteindelik met hul lewens moes betaal in die stryd om oorwinning. Manne en vroue van die Groot Oorlog, ek salueer julle!

Bronne: John Buchan – Springboks in France; Peter Digby – Pyramids and Poppies; www.southafricawargraves.org

Die name van 1SA Brigade se vier regimente verskyn op die rotse langs die gedenkteken van die 9th Brigade naby Arras in Frankryk (foto heelbo). Die name van die veldslae op die gedenkteken (foto bo) was almal behalwe een veldslae waarby die Suid-Afrikaners betrokke was en waaroor die reeks oor die Eerste Wêreldoorlog die afgelope jare gehandel het.  Foto’s: Reinderd Visser

Log in with your credentials

Forgot your details?