Die Alleensitters

Deur Tania Smit

Ek het gister vroeg klaargemaak met my dinge in George, en besluit om te gaan lunch by Nina’s Cafe. Dis ’n plek met kos en mense en ’n hart en ’n siel, gemaak vir eters wat goed kan proe, maar ook wil mooi sien en lekker luister.

My gemoed was dieper as wat dit moes wees, omdat Joshua na die Reën op pad George toe gesing het “jy is meer as genoeg vir my,” en ek met ’n skrik besef het ’n deeltjie in my glo hom nie.

Al die ou stemme het verrys uit my verlede… stemme wat nie mooi woorde praat nie en ook nie maklik stil raak as hulle eers begin fluister nie. So, ek het die bewolkte dag soos ’n kombers om my gedraai, en gaan sit met ’n glas wyn en ’n tydskrif. En net beleef.

Regs van my was ’n man wat ook alleen gelunch het; hy was besig met sy koerant en ’n bier. Toe ek genies het, het hy gesondheid gesê en mooi geglimlag en verder gelees.

Links van my was twee mans wat besigheid gepraat het terwyl hulle water gedrink en slaai geëet het.
Vêr agter in die buite was ’n ooie­vaarstee, en al wat groter was as die mamma se maag, was haar glimlag en die baba se hoop persente. Dit was vir my mooi.

Regs voor my het ’n witgrys man en vrou gesit wat nog mooi en regop-jonk was, en lekker met mekaar gekuier het. Hy met sy eie bottel wyn, sy met ’n craft gin wat sy stadig genurse het.

En toe loop ’n middeljarige vroutjie alleen in die restaurantjie in.

Ek kon sien dit is haar eerste probeer, want al was my eerste keer baie jare gelede, onthou ek dit nog soos gister. En haar kwesbaarheid was oor haar gesig geskryf.

Die kelnerin het die vroutjie op elke moontlike plekkie probeer neersit – met haar rug na mense toe, in die hoek met haar gesig na die mense toe, buite agter ’n boompie, om die draai agter die skuifdeur – maar sy kon nie haar sit vind nie.

Sy wou, maar sy kon nie.

En toe ek haar sien uitstap, wou ek agterna gaan en vir haar sê kom probeer weer – die eerste keer is altyd die ergste.

Ek wou sê in-die-hoek-met-’n-boek werk altyd maklikste. Ek wou vir haar my bors ooptrek en my hart wys, soos hy gevoel het gister, sodat sy kon sien ons almal is ewe seer binne, al lyk party mense gesonder van buite as ander.

Maar ek het haar laat gaan, aspris. Want ek wou nie hê sy moes weet sy is gesien nie. Want solank sy glo niemand het gesien nie, besluit sy dalk eendag om vir die eerste keer te probeer. En vind sy daardie dag vir haarself ’n hoekie wat deurskynend en veilig genoeg is om haar sit te vind.

En net te beleef. Soos die res van ons.

Log in with your credentials

Forgot your details?