Spekbome vir Tuishuis se waterwyse tuin

By van die spekbome is van links Hans Ezanie (tuinier van Tuishuis), Deon Strydom (Trapsuutjies Projekte), Marie Schmidt (inwoner van Tuishuis) en Wade Ford (Trapsuutjies Projekte). Foto verskaf

’N GROOT klomp spekbome is die nuutste toevoeging tot die waterwyse tuin van Tuishuis, ’n tehuis vir bejaardes op Oudtshoorn.
Die spekbome is ’n geskenk van die Kangovalleie Landbouvereniging wat reeds geruime tyd Tuishuis bystaan om hul tuin in die huidige droogte waterwys te maak.
Boere het al bakkievragte klippe aangery waarmee Marie Schmidt, ’n dinamiese inwoner van Tuishuis, wonderwerke verrig het.
“Ons het weer ’n versoek uitge­stuur na ons boere vir spekbome vir Tuishuis. Trapsuutjies Projekte het hier­van te hore gekom en was gretig om te help,” sê Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die landbouvereniging.
“Die tydsberekening was perfek: Trapsuutjies Projekte was juis besig om spekbome te verwyder wat hulle langs die De Rustriooldamme aangeplant het en met gesuiwerde rioolwater natgemaak het.”
Kunsmatige drywende vleilande is ’n paar jaar gelede by die De Rust-rioolplaas geïnstalleer om die effek van natuurlike plante vir watersuiwering te toets. Trapsuutjies Projekte het minimale onderhoud daar gedoen, en ook pogings aangewend om die haalbaarheid van ’n kleinskaalse kwekery daar te ondersoek.
Diefstal en vandalisme het hul egter genoop om hul betrokkenheid kort te knip en hul volle aandag aan hul kunsmatige vleilandprojek by die Dysselsdorp-rioolwerke, wat voldoende sekuriteit het, te bied.
“Dit was fantasties om te hoor dat ons die spekbome, wat op gesuiwer­de rioolwater gegroei het, ’n tweede kans by Tuishuis kan gee,” sê Wade Ford, wat namens Trapsuutjies en die Landbouvereniging die spekbome afgelewer het.