Skoolseun se vullisplan

Prins Alberter na groot wetenskapuitstalling

Edwin Cupido van Prins Albert en sy onderwyser, Franzel Stadler, by die vullisdromme van die Hoërskool Zwartberg. Hy hou die sertifikaat vas wat hy by die wetenskapuitstalling op George gewen het.  Foto:  Marlene Malan

Deur Marlene Malan
ROMMELSTROOIERY in Prins Albert het ’n erns­tige omgewingskwessie geword. Dit ontsier die omgewing so ernstig dat dit die gesondheid van veral kinders en diere bedreig. Op van die oop vullishope is selfs mediese afval.

Dit is die bevinding van Edwin Cupido (16), ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Zwartberg, ná navorsing hieroor wat verlede naweek as ’n projek by die Eskom-ekspo op George ingedien is.

Edwin was een van die toppresteerders. Hy gaan in Oktober aan die volgende ronde by die Inter­nasio­nale Wetenskapsuitstalling in Johannesburg deelneem. Nog 46 leerders van sewe skole uit die streek het deelgeneem.

Edwin sê die rommel in die woonbuurt Noord­einde waar hy woon, hinder hom al lankal.

“Iets moet gedoen word om veral die noordelike ingang van ons dorp aan die kant te maak.”

Sy navorsing sluit onder meer onderhoude met munisipale amptenare, inwoners en lede van die plaaslike Pick a Piece-herwinningsinisiatief, vrae­lyste en foto’s van die omgewing in.

Edwin het nie net die probleme geïdentifiseer nie, maar doen ook oplossings aan die hand.

“Ek het verskeie van die dorp se vulliskampe besoek, veral dié wat aan die ingangspad lê. Dit lyk verskriklik. Van al die verskillende soorte rommel is dit plastiek wat die meeste weggegooi word. Dis ’n groot probleem, veral omdat plastiek tussen 200 en 1 000 jaar neem om af te breek.”

Noordeinde het die afgelope jaar ’n nuwe uitbreiding van sowat 240 huise gekry, “maar sonder enige vullisdromme”.

Uit vraelyste het Cupido die volgende afleidings gemaak: 96% van inwoners meen die dorp het ’n rommelprobleem, 62% meen daar is te min vullisdromme, 52% erken hulle strooi vullis, 35% sê die vulliskampe is te ver van hul huise af, 73% sê hul­le sal vullis optel wat hulle nie gestrooi het nie, maar 27% weier om ander se vullis op te tel.

Twee inwoners van die dorp, Charles May en sy buurvrou, Kate Morgan, het selfs besluit om ’n leë erf tussen hulle huise te koop om rommelstrooiing op dié stuk grond te bekamp.

Danvor Sarelse, munisipale sanitasiehoof, het aan Edwin gesê afval word Vrydae uit die vul­liskampe verwyder en na die stortingsterrein geneem. Die stortingsterrein word tans vergroot.

“Die ideaal sou wees om die terrein te kompakteer,” sê Edwin, “dus lae grond tussen die vullis. Maar daar is nie geld vir permanente grondverskuiwingsmasjinerie hiervoor nie”.

Hy sê die swartsakke wat Woensdae by huise gehaal word, word dikwels oornag deur honde stuk­kend geskeur. “Mense wil ook nie hul swartsakke na ’n optelpunt in die straat dra nie”.

Edwin meen daar is ’n houdingsprobleem by van die inwoners.

“Hulle wil nie self vullis optel nie, omdat dit moeite is. Hulle wil ook nie verder stap om dit in dromme te stort nie. Maar dit is so dat die munisipaliteit meer vullisdromme moet verskaf en dit moet opknap, byvoorbeeld met omheining. Dis tans so vieslik dat inwoners nie eens naby wil gaan met hul sakke nie. Verder moet die opvoeding by skoolkinders begin – dis hulle wat uiteindelik ’n voorbeeld aan volwassenes kan stel.”

Log in with your credentials

Forgot your details?