Reën bring verligting

Die Swartberge was sedert Sondag ’n prentjie vanaf Oudtshoorn. Foto: Johann Coetzer

Deur Liesel le Roux
DAAR was groot verligting die naweek in die droogtegeteisterde Oudtshoorn-gebied nadat heelwat reën tussen Donderdagaand en Saterdag oor die gebied uitgesak het. Volgens inwoners is tussen 20 mm en 34 mm in die gebied gemeet.

Van die reënvalsyfers wat Die Hoorn ontvang het, is: 26 mm in Volmoed (Laubscher Coetzee), 26 mm in Calitzdorp De Bad-omgewing (Lorish Olivier), 31 mm in die Kammanassie (Ebon le Roux), 27 mm in Meiringspoort (Barry Meijer), 20,5 mm in Gamka-omgewing (Ernie Fourie), 20 mm in die Red Stone Hills-omgewing (Johan Strasheim) en 33 mm in die Kango Grotte-omge­wing (Andre Barnard).

Die vlak van die Raubenheimerdam, Oudts­hoorn se drinkwaterdam, het gister op 35,53% gestaan nadat 22 mm reën by die dam en dik sneeu op die Swartberge geval het.

Verlede Donderdag voordat dit in die gebied begin reën het, was die dam net 31,54% vol.

Maar die grootste aanvanklike opwinding die naweek is veroorsaak deur wydverspreide sneeu; volgens talle Oudtshoorniete die meeste wat hulle die laaste dekade of twee op die Swartberge gesien het. Ook die Kammanassieberge en die Outeniqua-berge was wit van die sneeu.

Die Swartbergpas is reeds Vrydag gesluit as gevolg van dik sneeu wat die pad tot oor die berg gevaarlik gemaak het vir alle voertuie behalwe 4X4-voertuie. Mense het egter voortgegaan om met 2X4- en gewone sedanmotors die modderige en gladde pas aan te durf met talle wat op die pas vasgeval het. Die pas is gister weer geopen maar ligte voertuie is gemaan om die pas eerder te vermy.

Heelwat skade is klaarblyklik deur die nat en modderige toestande en die baie voertuie op die pas aan die padoppervlak aangerig.

Log in with your credentials

Forgot your details?