Nederlandse kundige gee raad

Niel Els (links) saam met Martin Huizinga.

Een van Martin Huizinga se foto’s.

IN die tydperk van nege dae wat die toerisme-kundige Martin Huizinga van Nederland Oudtshoorn en die Klein Karoo besoek het, was hy so beïndruk deur die streek dat hy nie kon ophou foto’s neem nie.
Sy kamera se sluiter het nie minder nie as ’n duisend keer gekliek van Vrydag, 22 Februarie, toe hy hier aangeland het totdat hy Sondag, 3 Maart, weer vertrek het!

Huizinga, wat namens die Nederlandse sake-hulporganisasie PUM konsultasiewerk by Turnberry Hotel kom doen het, is in die tyd wat hy hier was deur Niel Els, mede-eienaar van Turnberry, rondgewys.

Tussen die konsultasiewerk deur het hulle talle toerisme-attraksies besoek, die sirkelroete gery van Oudtshoorn oor die Swartbergpas na Prins Albert, en via Klaarstroom, Meiringspoort en De Rust terug na Oudtshoorn.

Terwyl hy hier was, het hy ook leer biltong eet, by verskeie restaurante gaan eet, onder meer volstruis- en wildsvleis, van Suid-Afrika se heerlike wyne geniet, ’n volstruisplaas besoek, die dorp per voet verken, na stokstertmeerkatte en Nataniël se vertoning gaan kyk en selfs een Saterdagoggend aan die Oudtshoorn Parkrun deelgeneem!

Els het hom ook dele van die Tuinroete gewys.

Huizinga, wat ’n uiters bedrywige sosiale media-gebruiker is met groot getalle volgelinge in onder meer Nederland, het sy foto’s en ervarings rojaal op onder meer Facebook gedeel en stel ook sy foto’s beskikbaar vir reklamedoeleindes.

Baie Nederlanders het na aanleiding van Huizinga se plasings reeds aangedui dat Oudtshoorn beslis op hul reisprogram gaan wees wanneer hulle Suid-Afrika besoek.

Wat PUM betref, is dit ’n Nederlandse organisasie wat befondsing van die Nederlandse re-gering kry om kundigheid aan medium tot klein besighede (met minstens elf werknemers) in opkomende lande oor te dra en opleiding te verskaf.

PUM het meer as 300 kundiges wat hul konsultasiedienste gratis aanbied. Behalwe verblyf en etes dek PUM al die konsultante se uitgawes.

Huizinga, wat ’n se­nior professor by ’n hotelskool in Rotterdam is, bied sy dien­ste in die gasvryheidsbedryf aan. Die doel van sy besoek aan Turnberry was om ’n ondersoek na en ontleding van die hotel se bedrywighede te doen.

Volgens Els het Huizinga alle aspekte van Turnberry as besigheid deeglik ondersoek. Dit het onderhoude asook ’n “SWOT”-analise ingesluit.

“Daarna het hy ’n verslag opgestel met aanbevelings in watter opsigte die hotel kan verbeter.

“Vir my was dit veral van waarde dat ’n heeltemal onafhanklike kundige met ’n vars oog en uit ’n internasionale perspektief ons besigheid ondersoek het en ’n verslag opgestel het.”

Volgens Els het hy die verslag reeds ontvang.

Enige besigheid met meer as elf werknemers kan aansoek doen om ’n kundige uit Nederland te kry vir konsultasiewerk.

Volgens Huizinga stel PUM daarin belang om in samewerking met Oudtshoorn Toerisme en die

Oudtshoorn Besig­heidskamer ’n toerisme-ontwikkelingsprogram in die Klein Karoo aan te pak.

Vir meer inligting oor PUM kan Coen Asjes gekontak word by coen.asjes@pum.nl.

Hy is die verteen­woordiger van PUM in die Wes-Kaap en woon in Sedgefield.

• Huizinga het op Dinsdag, 26 Februarie, ’n interessante aanbieding, Master Class on Future Tourism, op Oudtshoorn aangebied. Hy het onder meer gesê teen 2025 gaan die manier waarop toeriste hul toere beplan heeltemal verander. Reisagente en toeroperateurs gaan ’n al hoe kleiner rol speel. Mense gaan hul toere self beplan met behulp van die internet. Veral jong toeriste is baie meer op soek na avontuurlike en kulturele ervarings, het hy gesê.

Besoek PUM se webtuiste by www.pum.nl.

Log in with your credentials

Forgot your details?