Welkome reën met goeie dosis drama!

Hierdie treffende foto van ’n reënboog is Saterdag in die omgewing van die plaas Trutersdal van Weber Truter tussen Oudtshoorn en George vanaf die Heimersrivierpad geneem ná die middag se reën. Foto: Hannes Jordaan

Die verwoestende storm met ’n daarmee gepaardgaande wolkbreuk wat Volmoed suidwes van Oudtshoorn Saterdagmiddag getref het. Volgens Johan Keller van die plaas De Denne het ’n stormsterkte wind gewaai. ’n Kolkvormige spierwit wolk het tot op grond gekom terwyl dit swaar gereën en gehael het. ’n Mens kon skaars 50 meter ver sien, het hy gesê. Dié foto is deur Bonnie Booysen vanaf die Palmoord in die rigting van Volmoed geneem.

Die twee foto’s bo en onder is in Meiringspoort geneem van die Grootrivier wat afgekom het. Die AMS-helikopter het in die poort gaan land om twee kinders en vier volswassenes wat deur die rivier vasgekeer was, na veiligheid te bring. Die foto’s het op AMS se Facebookblad verskyn.

Deur Liesel le Roux
WELKOME reën in die dorre Klein Karoo het die afgelope naweek gepaard gegaan met ’n goeie dosis drama toe ses mense per helikopter uit Meiringspoort gered moes word, en hael, reën en wind eiendomme in die streek beskadig het.

Sowat 166 huise in die Oudtshoorn-omgewing het onder die storm deurgeloop terwyl die wind ook kragpale omgewaai het wat kragonderbrekings veroorsaak het.

Op Calitzdorp is twaalf kragpale omgewaai en kragdade beskadig. Eskom-werkers het tot midder-nag Saterdag gewerk om kragtoevoer te herstel.

Die Air Mercy Services (AMS)-helikopter het Saterdagmiddag vier volwassenes en twee kinders uit Meiringspoort in veiligheid gebring nadat die Grootrivier wat deur die poort loop, skielik afgekom het ná swaar reën noord van die Swartberge.

In Volmoed buite Oudtshoorn het sowat 30 mm reën binne 15 minute saam met reën en hael groot skade aangerig. Huise en informele strukture se dakke is afgewaai.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, sê die Oudtshoorn Munisipaliteit gaan die provinsiale regering nader vir bystand vir die families wat deur stormskade geraak is.

Sylvester, wat Volmoed Sondagoggend besoek het, sê hy is diep geraak deur die skade wat die inwoners gely het.

Huise in drie informele woongebiede – die GG-kamp, Black Joint-gebied en Die Kanaal – is ook beskadig, terwyl huise in ander gebiede op Oudtshoorn ook oorstroom het.

’n Munisipale taakspan wat Saterdag op die been gebring is om slagoffers by te staan, het volgens Sylvester die naweek onverpoos gewerk. Die noodspan het boumateraal en komberse uitgedeel aan families wat geraak is.

Meiringspoort:waarskuwings nou vroeër
Volgens Hein Rust, hoof van rampbestuur in die Sentraal Karoo, is daar verlede jaar elektroniese meters in die opvangsgebied van Meiringspoort geïnstalleer en dit help dat motoriste vroeër gewaarsku kan word indien ’n vloed op pad is na Meiringspoort.

“Ongelukkig kan ons nie altyd betyds by almal uitkom nie, omdat die opvangsgebied klein en naby aan die ingang van die poort is.”

Meiringspoort is ongeveer 30 km lank.
Rust sê wanneer dit baie reën, word Klaarstroom en De Rust se polisie in kennis gestel sodat die poort van albei kante toegemaak kan word. Volgens hom kom altesaam ses riviere by die poort bymekaar.

“Saterdag het twee van die riviere sterk geloop, wat tot gevolg gehad het dat die poort oorstroom het,” het Rust gesê. Volgens hom styg die water in Meiringspoort vinnig maar sak dit stadig. Dit neem tot drie ure om die poort na so ’n vloed skoon te maak.

Saterdag is ’n laaigraaf gebruik om die brûe skoon te maak nadat grond en ander versprerrings daarop uitgespoel het.

Rust sê mense wat in die poort vasgekeer word tydens ’n vloed moet probeer om met hul voertuie op gedeeltes te wag wat hoër geleë is, en nie probeer om oor brûe te ry nie.

Behalwe vir die ses mense wat deur die AMS-helikopter gered is, kon al die ander mense wat in die poort vasgekeer was – ook ’n bus met kinders – die poort veilig verlaat nadat watervlakke gedaalhet.

Droogte nog nie gebreek
Hoewel die naweek se reën groot verligting vir inwoners van Oudtshoorn gebring het en die dorp se tuine en bome weer die week begin kop oplig het, is die droogte in die streek nog nie gebreek nie en het op baie plase baie min reën geval.

Op Oudtshoorn het sowat 20 mm reën geval – hoewel die reënval in dele van die dorp baie gewissel het – terwyl gebiede net noord van die dorp meer reën gekry het. By die Raubenheimerdam het 26 mm reën geval.

Die reën het egter kol-kol geval, en dele van die streek heeltemal gemis. Langs die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp is byvoorbeeld op plekke 10 mm en by ander 26 mm gemeet, op Calitzdorp tussen 5 en 10 mm, maar op plekke nie ver daarvandaan het geen reën geval nie.

Hoewel die droogte nie gebreek is nie, het die naweek se reën beslis hoop gebring, sê Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo.

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike rege­ring, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het vandeesweek ’n beroep op inwoners van die Karoo gedoen om water te bespaar en alle waterlekke aan te meld.

Hoewel dit op plekke gereën het, is die droogte nog glad nie verby nie, en ons sal voortgaan om gebiede so te bestuur.

“Munisipaliteite soos Beaufort-Wes, Kannaland en Laingsburg sal steeds, soos die afgelope vier jaar, steun van die provinsie ontvang, maar ons wil die dorpe aanmoedig om hul watervoorraad behoorlik te bestuur.”

Damvlakke en riviere
Die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se drinkwaterdam, het gister op 42,17% gestaan, effens minder as verlede Woensdag se 42,42%, wat aandui dat verbruik die week hoër was as die hoeveelheid water wat in die dam ingeloop het. Die Mell­villedam wat 5% van die Raubenheimerdam bevat, is steeds 100% vol.

Een van die streek se landboudamme, die Stomp­driftdam buite De Rust het egter water bygekry. Volgens Riaan Kruger, bestuurder van die Stompdrift Kammanassie Watergebruikers­vereniging, het die damvlak van 4,3% tot 10,5% gestyg.

Die Kammanassiedam (3%) en die Gamkas­poortdam (0%) tussen Ladismith en Prins Albert het egter nie water bygekry nie.

Die Olifantsrivier onder die Stompdriftdam het Sondag sterk geloop, waarskynlik onder meer as gevolg van die water uit Meiringspoort wat die ri­vier voed.

Reënwaterpret! Arnold en Michael de Jager geniet die water wat geval het by AfriCamps in Schoemanshoek. Foto: Esti de Jager

Bo en onder: Skade in Volmoed.  Foto’s verskaf

Bo: Die oorspoelde Meiringspoortpad vanuit die AMS-helikopter geneem.
Onder: Jocelyn Park-Ross en Mohammed Shaik, para-medici van die AMS-diens met die twee kinders wat hulle uit Meiringspoort gered het. Kapt Stephan Rossouw was die vlieënier.  Foto’s: Air Mercy Service op Facebook

Bo en onder: Twee huise wat Saterdag deurgeloop het in Volmoed. (Foto’s verskaf.)