Wedlope: De Rust soos ’n miernes!

Werkers vandeesweek besig om ’n groot tent op De Rust op te rig.

Op De Rust is daar die week behoorlik gewoel en gewerskaf om alles gereed te kry vir die jaarlikse Meiringspoort- wedlope en gepaardgaande basaar wat die naweek plaasvind. Hier is van die dorp se flukse vroue besig om eetgoed gereed te kry vir die basaar. Van links is Annalie van der Westhuizen, Maré Janse van Rensburg, Letsie du Plessis, Annemarie Nel en Martie vd Westhuizen.  Foto verskaf

DE RUST was die week ’n miernes van bedrywighede met geesdriftige inwoners wat hard ge-werk het om te sorg die dorp is slaggereed vir die gewilde Meiringspoort-wedlope en feesbasaar die naweek.

Sowat 4 000 deelnemers word Saterdag op De Rust verwag vir die wedlope, terwyl flukse De Rusters Vrydag reeds vanaf 11:00 gereed sal wees met die lekkerste eet- en drinkgoed, eie aan ’n plattelandse basaar.

Die registrasie van atlete kan van 11:00 tot 21:00 Vrydagaand gedoen word. Atlete moet ont­hou om ’n afskrif van hul identiteitsdokument saam te bring wanneer hulle hul nommers gaan afhaal. (Alle inligting en reëls oor die registrasieproses is op die laaste nuusbrief op www. meiringspoort21.co.za)

Onder die eetgoed waarna almal kan uitsien, is die tradisionele roosterkoek, pannekoek, basaarpoeding asook heerlike braaiburgers, tjops, worsrolle, sosaties en nog vele meer. Die Karoo Deli se koeke, melkskommels en goeie filterkoffie is deel van die basaar, terwyl daar ook vegetariese en vegan-geregte sal wees.

Die gewilde vleistafel met Karoovleis sal Vrydag vanaf 16:00 oop wees en weer Saterdag vanaf 09:00. Vir die vleistafel is daar kaartfasiliteite, maar van die ander tafels word op ’n kontantbasis bedryf.

’n Steakete word Vrydag vanaf 17:00 bedien.

Onthou die padwerke en ekstra rytyd!

• Atlete word gewaarsku om die baie padwerke tussen Oudtshoorn en De Rust in ag te neem wanneer hulle die oggend na De Rust reis. Daar is ook drie stop/ry-punte tussen George en Oudtshoorn.

Voeg ten minste een uur by jou reistyd om betyds by die wedloop te wees en genoeg tyd te hê vir parkering.

Geen privaatvervoer na die Poort word toe­gelaat nie. Alle deelnemers moet op die vrag­- motors klim wat beskikbaar is. Die wedloop sal ook onder geen omstan­dighede vertraag word vir atlete wat nie betyds is nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?