Vrou aangeval op Moedersdag

Helena Burger en haar kat, Shadow  Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N 53-JARIGE vrou van Oudtshoorn is op Moe­dersdag deur twee jong mans in die middedorp aangeval.

Helena Burger vertel sy het omstreeks 16:00 met haar kat in Loopstraat gestap toe die mans haar van agter aangeval het.

Sy was sy op pad om krag te gaan koop, maar toe sy sien dat haar kat haar gevolg het, wou sy hom eers terugneem huis toe.

“Die twee het van voor af gekom, en my selfs gegroet toe hulle verbyloop.”

Net daarna het hulle haar aangeval en een haar selfoon, wat in haar hemp se sak was gegryp, terwyl die ander een haar baadjie probeer uittrek het.

Haar noodkrete het inwoners uit die omgewing uit hul huise laat kom, waarna die twee laat spaander het.

Sy sê ’n polisievoertuig wat besig was om die omgewing te patrolleer het by haar gestop. Die hulp van nog twee voertuie is ingeroep en die twee vermeende diewe – met die selfoon – by die taxistaanplek in hegtenis geneem.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word ’n klag van roof ondersoek, en het die verdagtes Maandag in die hof verskyn. Hulle is albei 19 jaar oud.

“Ek wil graag almal bedank wat so vinnig opgetree en my gehelp het. Die polisie se diens was uitstekend!

Ek is baie bevoorreg dat ek slegs ’n blou kol op my arm het,” het sy Maandag aan Die Hoorn gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?