Volstruise sonder genade gejag vir vere

Die volstruis wat die naweek by Ebon Le Roux op Rooheuwel eers doodgeslaan, en toe geslag is. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIGBY R500000 se volstruisvere is die afgelope nege maande in die Oudtshoorn-omgewing ge­steel, sê ao Fasie de Kock, ondersoekbeampte van die SAPD se veediefstaleenheid op Oudtshoorn.

Volgens De Kock het ’n boer in Rooiheuwel die afgelope naweek deurgeloop asook ’n plaas in Schoemanshoek. Ebon le Roux, die boer wat in Rooiheuwel deurgeloop het, het Sondag op die gru-vonds in sy volstruiskamp afgekom waar ’n volstruis met ’n stok doodgeslaan en toe geslag is. “Die volstruis se bene is albei netjies afgesny, en die filette verwyder,” het hy gesê.

Die oortreders het vermoedelik Saterdagnag of Sondag in die vroeë oggendure die kamp binne-gekom en die volstruis geslag. Ses ander volstruise wat hulself tydens die voorval beseer het deurdat hulle in drade vasgehardloop en bene gebreek het, moes ook van kant gemaak word.

Die skade word op sowat R31500 beraam.

Volgens De Kock is die vere van elf volstruise in Schoemanshoek gepluk. Vyf moes van kant gemaak word. Dis nie seker of die ander sal oorleef nie.

Ook volstruise op die Oudtshoorn Navorsings­plaas het onlangs deurgeloop. Volgens dr Anel Engelbrecht, navorser op die plaas, is nege volstruise die vorige naweek gepluk. “Een volstruis is dood aangetref nadat hy vermoedelik doodgeslaan is, en die ander een moes van kant gemaak word omdat sy been gebreek is,” sê sy.

Afgesien van die vere wat gesteel is, is die waar­de van die twee volstruise wat dood is, R8000.

Volgens De Kock toon syfers dat die meeste diefstal vanjaar in Maart en Augustus plaasgevind het. Veral plase in Rooiheuwel, Schoemanshoek, Volmoed en op pad na De Rust loop deur.

De Kock sê daar is in die Chinese mark ’n groot vraag na die rugvere van ’n volstruis.

Hy het boere en volstruisinstansies versoek om geen vere weg te gooi nie, en dit eerder te verbrand.

“Wanneer ons mense vang wat vereproduk­te soos stoffers verkoop, word aan ons gesê hulle het die vere op die vullishoop opgetel.

Enigiemand in die besit van vere moet die no-dige dokumente hê met die oorsprong van die vere.

“Plase moet ook nie smouse toelaat wat huisraad aan werkers verkoop nie. Dit is dikwels mense wat net daar is om te kom kyk wat op die plaas aangaan en hulle as smouse voordoen. Ons het al sake gehad waar hierdie smouse deur werkers met ge-steelde volstruisprodukte en eiers vergoed is omdat hulle nie hul skuld kon vereffen nie.”

Volgens De Kock is die volstruisveerdiewe hoogs georganiseerd, en hou hulle plase fyn dop.

“Hulle word op ’n sekere tyd afgelaai, stroop die volstruise, en word op ’n afgespreekte tyd opgelaai.”

De Kock het die volgende wenke aan volstruisboere en handelaars verskaf:

• Verkoop net produkte aan betroubare besig­hede en kopers. Vermy sover moontlik informele transaksies.

• Wees selektief wie op plase toegelaat word. Spioene doen hulleself soms voor as kopers.

• Kyk uit vir vreemde voertuie, veral laatmiddag of saans.

• Rapporteer alle diefstalle. Dit kan help wanneer vermeende diewe vasgetrek word.

• Hou noukeurig rekord. Sorg dat kopers die nodige dokumentasie ontvang ingevolge die vee-diefstalwet.­

• Waar ’n volstruis geslag en net die vleis geneem word, word ’n gedeelte gewoonlik deur die slagter gehou, en die ander dele dikwels verkoop of gebruik as betaling vir drank- of dwelmskuld.

• Enigiemand met inligting kan De Kock skakel by 082 771 8496, of die 24 uur-bystandnommer 082 469 7419. Inligting sal vertroulik hanteer word.

Log in with your credentials

Forgot your details?