Verhoor van oud-konstabels van Dysselsdorp in April voortgesit

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van twee voormalige konstabels van Dysselsdorp wat van moord aangekla word, is na die getuienis van ’n forensiese patoloog vir verdere getuienis tot Aprilmaand uitgestel.

Die twee beskuldigdes, Dawid Voster en Daniel Lingerveld, word daarvan aangekla dat hulle die aand van 13 Januarie 2012 vir Frank Links sodanig aangerand het dat hy aan sy beserings beswyk het.

Ao Daniel Nel, ’n voormalige kollega van die twee beskuldigdes, het verlede week getuig dat hy gesien het hoedat Voster en Lingerveld vir Links in die Dysselsdorp aanklagkantoor geskop en na ’n ander vertrek gedra het.

Volgens Nel was Links toe reeds bewusteloos. Hy het self met sy skoen teen Links se skouer getik en gesien dat hy nie roer nie

Volgens die patoloog wat die nadoodse ondersoek op Links gedoen het, was daar egter nie sigbare beserings aan sy kop nie.

Nel het getuig dat hy die betrokke dag saam met Voster na ’n woning in Ruiterstraat, Dysselsdorp, gegaan het om ’n klagte van oproerige gedrag te gaan ondersoek.

Lingerveld en konst Eugene Pretorius was toe reeds op die toneel.

Links was met ’n mes gewapen en het probeer weghardloop. Hy het gesien hoedat Voster hom agternasit en later met pepersproei in die gesig spuit.

Volgens Nel het Links ook twee keer na hom (Nel) gesteek en het die pepersproei nie juis enige uitwerking op die oorledene gehad nie.

Links was glo baie aggressief en het oor ’n hei­ning geval toe hy wou vlug.

Konst Pretorius, wat intussen oorlede is, het twee skote afgevuur om Links af te skrik en hulle het later daarin geslaag om hom in die vangwa te kry.

Volgens hom het Links nie op die toneel bese­rings opgedoen nie behalwe ’n paar skaafmerke van die val oor die heining.

Terug by die aanklagkantoor het hy Links op die vloer voor die toonbank sien lê met Lingerveld ook daar.

Toe Voster die kantoor binnekom het hy Links teen die agterkop geskop.

“Dit was ’n harde hou,” het Nel getuig.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het dit aan Nel gestel dat hy ’n storie opmaak en ’n ander polisieman, konst April wat deel van die aanranding was, asook sy vriendin, sers

Jesica Wentzel, probeer beskerm. Hy het byvoorbeeld nie in sy hoofgetuienis gesê dat hy Links met sy skoen geraak het nie omdat dit, volgens Van den Bergh, ’n slegte indruk sou skep.

Streeklanddros Retha Pretorius het die saak tot 8 April uitgestel omdat nog ’n staatsgetuie, ook ’n polisiebeampte wat verlede week sou getuig, tans op kursus is.

Log in with your credentials

Forgot your details?