Veghond val kleuter aan

Bo: Rumalin Kam­mies (3) gister by sy ma, Ro­chelle Kammies (30). Hy het met Die Hoorn se besoek nog erge pyn ervaar. Op die foto onder wys sy ma van sy wonde. Foto’s:
Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N DRIEJARIGE seuntjie van die CG Kamp, ’n informele woonbuurt in Oudtshoorn, Rumalin Kammies, is Dinsdagmiddag erg beseer toe hy deur ’n Amerikaanse veghond aangeval is.

Die voorval het tussen 14:00 en 15:00 in 17de Laan plaasgevind. Die hond, wat aan ’n familielid se verloofde behoort, het Rumalin aan die been gegryp en hom ook aan sy sy gebyt.

Sy ma, Rochelle Kammies (30), het aan Die Hoorn vertel dat sy haar hande in die hond se bek moes druk om sy kake oop te forseer. “Ek het by my suster gekuier, en Rumalin het gespeel. Die volgende oomblik was die hond besig om my kind te byt,” vertel sy.

Haar suster, Lizelle Kammies (26), bly in ’n sinkhuis op ’n erf saam met haar verloofde.
Volgens Rumalin se ouma, Maria Kammies, ken die hond vir Rumalin en ook haar ander kleinkind Waghan Kammies (4). Sy sê daar bly ook ’n eenjarige kind op die erf.

Die polisie het Rumalin en sy ma na die aanval hospitaal toe geneem, waar hy vir sy beserings behandel is. Hy is volgens Nadia Ferreira, woord­voer­der van die Wes-Kaapse Depar­tement Ge­- sondheid, dieselfde dag ontslaan.

Die hond is deur personeel van die munisipale skut en wets­toepassing verwyder. Hy is egter nie van kant gemaak nie, en die eienaar het aangedring dat die hond aan hom terugbesorg word.

Volgens Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen klag word ondersoek nie.
Lee-Ann van Sittert van die diere-organisasie ACT (Animal Care Team), wat gereeld betrokke is by die opleiding van mense oor die regte manier om jou diere te leer en behandel, sê honde raak dikwels aggressief as hulle nie geleer word om mense te respekteer nie. “Ek het uit ondervinding geleer dat dit nie noodwendig die honderas is wat aggressief is nie. Alle honderasse moet met liefde grootgemaak word, en nie getart, geslaan of vasgeketting word nie.

“As dit nie gebeur nie, sal hierdie honde geniepsig wees en mense byt, ongeag of die hond hulle ken of nie.”