‘Vanjaar het die minste reën nóg hier geval – nie ’n enkele druppel nie’

Jan en Rosie Loff van die plaas Wolwekraal buite Prins Albert maak staat op die goeie sybokhaarskeersel van hul Angorabokke om hulle deur die droogtetyd te help. Die plaas kry droogtehulp om sy 325 bokke te voer. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
DIE bui reën wat die afgelope Saterdag in Prins Albert geval het, het welkome lafenis gebring, maar is nie naastenby genoeg om verligting van die uitmergelende droogte te bied nie.

In die dorp het tussen 3,5 en 5 mm reën geval, en eiendomme nader aan die Swartberg het tot 15 mm gekry, maar op plase digby die dorp het net ’n paar druppels die barre aarde getref.

Die harde reënbui wat Saterdag om 16:00 geval het, het net sowat vyf minute geduur, wat die droë tuine goed benat het. Dit het gepaard gegaan met ’n paar harde donderslae en weerligstrale wat al die vorige Vrydagaand hul verskyning gemaak het.

Pessimiste sê hulle het nie meer moed nie, omdat Prins Albert in Januarie en Februarie gewoonlik goeie reën kry.

Optimiste noem die naweek se bie­tjie hael en reën egter ’n “voorlopertjie” van “groot reëns,” het Kosie Stols, ’n inwoner van die dorp, aan Die Hoorn gesê.

Jan Loff, ’n boer van die plaas Wolwekraal aan die pad tussen Prins Albert en Leeu-Gamka, vertel dat hy in sy leeftyd in Prins Albert nog nooit so min reën aan die begin van die jaar hier sien val het nie.

Die plaas ontvang droogtehulp van die staat.

“In die eerste jaar dat ons hier op Wolwekraal kom boer het, dit was in 2009, was die gemiddelde reënval so 150 mm per jaar. Toe verminder dit die afgelope vier jaar na 80 mm, en vanjaar het die minste reën nóg hier geval – nie ’n enkele druppel in Januarie nie.”

Loff sê boere bly egter hoop en bid.

“Die droog­te knou ons kwaai. Ons het van Dorperskape na sy­bokke verander, want bokkies is ligter op die veld. Hulle eet die blaartjies wat van die doringbome val.”

Die redding vir Loff en sy kollegas en werkers is dat die sybokhaaropbrengs twee maal per jaar genoeg is om die plaas aan die gang te hou.

“Ons kry geen verdere staatshulp, behalwe droogtehulp, nie. Ons moet self die plaas laat werk, selfs in hierdie droogtetyd.”

Die leivore in die dorp loop egter weer sterk, wat waterbeurte aan enkele eiendomme bied volgens tradisionele toekenning. Dié water kom uit die Dorpsrivier wat sy water uit die Swartberg kry.

Log in with your credentials

Forgot your details?