Vangwa met Polisie, honde, gevangenes slaan om in dorp

’n Polisievoertuig lê Maandagoggend op sy dak na ’n botsing met ’n Volkswagen Polo in Voortrekkerweg, Oudts­hoorn. Twee polisiebeamptes, twee gevangenes wat agter in die voertuig was en twee honde is in die botsing beseer maar almal na behandeling ontslaan. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb en
Angelique Erasmus
’n Polisievangwa het Maandag­oggend na ’n botsing met ’n Volkswagen Polo op sy dak te lande gekom nadat die bestuurder na bewering voor die motor ingedraai het.

Die ongeluk het omstreeks 07:45 plaasgevind.

Twee polisiebeamptes, sers Patrick Jafta en konst Girshwin May, is op die toneel behandel en daarna per ambulans na die Mediclinic Klein Karoo geneem waar hul later die dag ontslaan is. Twee gevangenes is per ambulans na die Oudts­hoorn

Hospitaal vervoer en ook dieselfde dag ontslaan.

Twee polisiehonde wat ook in die vangwa was, is na Dr Glen Carlisle geneem vir behandeling. Volgens Carlisle het die honde

Dike, ’n wolfhond, en Kauder, ’n rottweiler, kneusplekke opgedoen, terwyl Kauder ook ’n sny aan sy boud gehad het.

Die honde het antibiotika en pynme­dikasie ontvang en behoort volgens Carlisle na vyf dae weer te kan werk.

Die bestuurder van die Polo, ’n vrou, is nie beseer nie, terwyl die man wat ’n passasier was, slegs lig beseer is.

Volgens ooggetuies het die vangwa wat in ’n westelike rigting in Voor­trekkerweg gery het, na bewering regs in St Georgestraat gedraai toe dit met die Polo, wat in ’n teenoorgestelde rigting gery het, gebots het.

Die vangwa het omgeslaan en ’n ent verder in St Georgestraat op sy dak tot stilstand gekom.
Sers Gretchen Michaels, woord­­voer-der van die Oudtshoorn Po­lisie, sê die vangwa was op pad na die Oudtshoorn

Polisiekantoor met twee mans wat die oggend op klagtes van huisbraak en diefstal in hegtenis geneem is.
Michaels sê die Polisie ondersoek ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur.

• ’n Inwoner van Oudtshoorn, Theo Peet, wat die ongeluk sien gebeur het, het Maandag op Die Hoorn se Facebook-bladsy inwoners wat nie op die toneel was nie, maar die polisiebeamptes die skuld vir die ongeluk gegee het, oor die vingers getik.

“Ek het die grootste respek vir daardie twee beamptes. Beseer en bebloed het hulle onmiddellik uit die voertuig ge­kruip en die twee gevangenes gaan help. Daarna het hulle hul met hul seer lywe dadelik na hul honde gehaas.

“Dit was vir my verstommend om te sien hoeveel omgee hulle getoon het vir die gevangenes en hul honde, ondanks die ondraaglike pyn wat op hul gesigte sigbaar was.

“Dit was ’n ongeluk gewees, maar dis nie een van ons se plek om hulle te ver­oordeel nie.

“Vir die twee beamptes: Menere, julle het vanoggend hierdie man se respek gewen met jul onbaatsugtige optrede!”

Log in with your credentials

Forgot your details?