Vandag in die hof: twee beskuldigdes dalk vry

Die vier verdagtes in die beskuldigdebank. Van links is Justice Mooi, Magdaleen Titus, Natashia Stuurman en Masithembe (MJ) January. Foto: Garnett Wicomb

DIT is moontlik dat twee van die vier verdagtes in die Preston Titus-moordsaak, Natashia Stuurman en Masithembe (MJ) January, vandag (28 November 2019) vrygespreek kan word.
Dié afleiding kan gemaak word uit argumente van die staatsaanklaer, Christhénus van der Vijver, en die regsverteenwoordigers van die twee verdagtes, Lizanne Prinsloo (vir Stuurman) en Louise Luterek (vir January) verlede week.
Uitspraak in die saak skop vanoggend af – bykans ’n volle twee jaar nadat Preston Titus op 1 Desember 2017 in sy slaapkamer op Oudtshoorn vermoor is.
Van der Vijver het verlede Vrydag toegegee dat daar nie genoeg getuienis voor die hof is om te bewys dat Stuurman en January betrokke was by die beplanning of pleeg van die moord nie, en ook nie op die klagte van regsverydeling skuldig bevind kan word nie.
Lizanne Prinsloo het betoog dat Stuurman nie in Port Elizabeth was waar die moord beplan was nie. Sy bedryf sedert 2006 ’n gastehuis op Oudtshoorn en daarom was dit nie vreemd dat sy slaapplek aan die vermeende moordenaars gebied het nie. Die verblyf is ook op die nippertjie deur Magdaleen Titus gereël.
Stuurman is voorts nie deur Sixabiso Klip, wat reeds tronkstraf vir sy aandeel in die moord uitdien, in sy getuienis geïmpliseer nie. Sy was ook nie bewus van ’n pepersproeikannetjie in haar motor nie.
Luterek het betoog dat January deur Titus meegedeel is dat sy haar man wil laat doodmaak en hy alles in sy vermoë gedoen het om haar daarvan te laat afsien. Hy het doodsdreigemente van Titus en Mooi ontvang en was so bang dat hy van blyplek in Port Elizabeth verander het. Hy het selfs gedurende die verhoor bedreig gevoel en in vrees geleef.
Die staatsaanklaer vra egter dat Justice Mooi en Magdaleen Titus op beide klagtes van moord en regsverydeling skuldig bevind word. Van der Vij­ver het in die hof gesê Titus is die grootste leuenaar wat haar weergawe aangepas het soos die saak aangegaan het. Sy het ’n baie selektiewe geheue en kan so nie onthou waaroor talle SMS-boodskappe wat sy tot drieuur in die oggend vir Klip gestuur het, was nie.
Volgens Van der Vijver is dit duidelik dat Titus alles in haar vermoë gedoen het om seker te maak haar man word vermoor. Sy was briesend toe die eerste probeerslag op die Donderdagaand deur die mat geval het.
Sy was die een wat gereël het dat Mooi na Oudts­hoorn gebring word. Sy was die een wat verblyf by Stuurman gereël en ook blyplek vir twee mense na die moord op George bespreek het.
Haar getuienis oor die Vrydagaand se gebeure is volgens Van der Vijver belaglik en so ook haar getuienis dat sy so vas geslaap het dat sy nie kon hoor haar man word in die slaapkamer langsaan wreed vermoor nie.
Die staat beweer dat sy dalk bygestaan en toegekyk het.
Titus se regsverteenwoordiger, Henk Carstens, het egter gevra dat sy vrygespreek word omdat die staat nie daarin geslaag het om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie.
Hy het weer gehamer op Titus se klagte dat sy nie altyd kon hoor wat getuies sê nie omdat van die hofgangers glo haar aandag met aanmerkings afgetrek het. Sy blameer ook haar vorige regsverteenwoordiger, adv Mustaque Holland, dat hy nie sy werk gedoen het nie.
Volgens Carstens is Klip deur die ondersoekspan van inligting voorsien vir sy bekentenis.
Carstens het voorts betoog dat dit Klip en January was wat die moord op Preston Titus beplan het en nie Magdaleen Titus.
Volgens hom is dit ook nie snaaks dat Magdaleen ten tye van die moord so vas geslaap het nie omdat sy saam met haar medikasie nog twee soorte pille gedrink het wat volgens ’n geneesheer, dr Dreyer, haar lomerig kon maak
Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het gesê hy kan nie oortuigend argumenteer dat Mooi nie betrokke was by die moord nie.
Hy het erken dat Klip ’n uitstekende getuie was en daar geen teenstrydigheid is tussen sy verklaring en sy getuienis in die hof nie.
Volgens Prinsloo is daar geen twyfel nie dat Mooi “part and parcel” was van die sameswering om die moord te pleeg.
Hy het egter gevra dat Mooi die voordeel van die twyfel op die klagte van regsveryde­ling behoort te kry omdat dit die onbeken­de Mvusi was wat Klip gevra het om langs die pad stil te hou en die moordwapens weggegooi het.
“Daar is geen getuienis voor die hof dat hy dit hanteer het nie,” het Prinsloo betoog.
Regter Nolwazi Boqwana het Vrydag Titus, Stuurman en January se borgtog tot van­dag verleng.
Mooi is in aanhou­ding.

Deur Garnett Wicomb