Uitspraak van binneverhoor in soldaat-moordsaak Maandag

Justice Mooi tydens ‘n besoek deur die hof aan die moordhuis vroeër vanjaar. Foto: Angelique Erasmus

Deur Garnett Wicomb
Die verdagte Justice Mooi het nie die hof oortuig dat sy grondwetlike regte van hom ontneem is en dat hy oormatig beïnvloed is om ‘n bekentenis af te lê nie. Daarom is dit die staat se mening dat sy die bekentenis wel deur die hof toegelaat behoort te word.

So het die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, gister gesê in sy betoog in die binneverhoor in die saak teen die vier verdagtes, Justice Mooi (30), Magdaleen Titus (43), Natasha Stuurman (38) en Masithembe “MJ” January (26) wat van moord op die soldaat, stafsers Preston Titus, aangekla word. Mooi beweer dat sy grondwetlike regte nie deur die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, aan hom voorgehou is nie en hy oormatig beïnvloed is om ’n bekentenis af te lê.

Volgens Van der Vijver hou Mooi dit aan die hof voor dat al die staatsgetuies, insluitende die dokter wat hom ondersoek het, almal leuenaars is en hy die enigste is wat die waarheid praat. Hy vra die hof om sy getuienis as blatante leuens te verwerp.

“Die beskuldigde was ‘n baie swak getuie wat sy weergawe van gebeure voortdurend aangepas het. Hy kon nie bevredigende antwoorde gee ten opsigte van verkille in sy getuienis in hoof en onder kruisverhoor nie,” het Van der Vijver gesê.

Volgens Lt kol Eric Jullies wat sy bekentenis afgeneem het, was hy gemaklik en rustig tydens die aflegging en gelukkig nadat aan hom verduidelik is waarom ‘n video-beampte ook in die vertrek was.

Van der Vijver het verder betoog dat indien die hof bevind dat Mooi leuens vertel dat hy deur sers Sheroné Flemmer gedreig is soos wat sy regsverteenwoordiger dit aan haar gestel het, sy hele aansoek platval en die bekentenis toegelaat behoort te word.

Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het die hof versoek om nie die bekentenis toe te laat nie omdat Mooi wel oormatig beïnvloed is om dit af te lê.Die belangrikste hiervan, volgens Prinsloo, het plaasgevind tydens ‘n besoek van sers Flemmer aan Mooi in die selle op Oudtshoorn kort nadat hy toegesluit was,. “Sy het hom gevra of hy oor die saak wil praat en dit het sy hele gedagtegang verander en het hy toe besluit om ‘n bekentenis af te lê.”

Volgens Prinsloo kon Flemmer en sers Vuyokazi Ludonga moontlik na Mooi se sel gestuur gewees het om hom tot ander insigte te bring.

Van der Vijver het hierop gereageer en gesê Mooi het reeds met Flemmer se eerste besoek en uit vrye wil haar meegedeel dat hy oor die saaak wil praat. Hy is deur niemand gedreig of beïnvloed nie.

Regter Nolwazi Boqwana het die saak tot Maandag 9 September 2019 uitgestel en Titus, Stuurman en January se borgtog tot dan verleng. Mooi bly in aanhouding.

 

 

Log in with your credentials

Forgot your details?