Twee wil ná jare se wag vir geld van minister na Openbare Beskermer

Simon Adams en Esmond Pockpas buite die kantore van Liebenberg Prokureurs.   Foto: Garnett Wicomb

Simon Adams en Esmond Pockpas buite die kantore van Liebenberg Prokureurs.
Foto: Garnett Wicomb

Hulle gaan noú met hul probleem na die Openbare Beskermer toe.

So sê twee mans van Oudtshoorn: Simon Adams van Smartie Town en Esmond Pockpas van Riemvasmaak, wat nou al langer as ’n jaar wag vir geld wat die Minister van Korrektiewe Dienste aan hulle verskuldig is.

“Dit was al weer Kersfees en ons wag nog altyd vir ons geld,” sê die twee mans.

“Ons het al hoeveel skoene stukkend gestap na ons prokureur,” sê Adams.

Dié twee mans was vir maande onder huisarres was – ten spyte daarvan dat die Kaapse Hooggeregshof hulle in 2010 vrygespreek het op klagtes van onsedelike aanranding.

Die hof het daarna in Oktober 2015 ’n bevel uitgereik dat die minister van korrektiewe dienste aan elkeen R150 000 moet betaal.

Adams en Pockpas het onderskeidelik R4 miljoen en R2,5 miljoen van die ministers van Justisie en Korrektiewe Dienste geëis omdat hulle van hul vryheid ontneem is.

Hulle is in 2008 aan onsedelike aanranding skuldig bevind en elk vyf jaar gevangenistraf opgelê. Nadat hulle teen die skuldigbevinding geappelleer het, is hulle in 2010 in die Hooggeregshof vrygespreek.

Hulle was egter tot 24 Mei 2011 onder huisarres, alhoewel die landdroshof op Oudtshoorn reeds op 19 November 2010 dienooreenkomstig ingelig is.

Regter Yesiko het in Oktober 2015 ’n bevel uitgereik dat die Minister van Korrektiewe Dienste R150 000 aan elk van hulle moet betaal.

“Ons wag nou nog vir die uitbetaling,” het Pockpas gister gesê. “Dit is mos nie reg nie.”

Adams en Pockpas se regsverteenwoordiger, Estelle Liebenberg, het in Mei verlede jaar aansoek vir ’n lasbrief om eksekusie van goedere teen die minister gebring.

Dit is op Maandag, 16 Mei, in die Hooggeregshof geliasseer.

Sy wag ook steeds op reaksie van die minister se kantoor.

Log in with your credentials

Forgot your details?