Twee niggies sterf in botsing

Mia Viola Lewis (8, bo) en Jamy-Lee Brucelin Jones (15, onder), twee niggies van Oudtshoorn wat Sondagaand in ’n noodlottige botsing tussen Oudts­hoorn en Calitzdorp gesterf het, se dood het skokgolwe deur Oudtshoorn gestuur.
Foto’s: Facebook

Deur Angelique Erasmus
TWEE niggies van Oudtshoorn het Sondag in ’n botsing op die pad tussen Calitzdorp en Oudtshoorn gesterf toe die Volkswagen Caddybakkie waarin hulle gery het, met ’n Ford Ranger-bakkie gebots het.

Die twee niggies, Jamy-Lee Bruce­lin Jones (15) en Mia Viola Lewis (8), se dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Hulle is albei op slag dood in die botsing wat Sondagaand kort voor 19:00 sowat 20 km buite Oudtshoorn plaasgevind het.

Volgens kapt Ian Meyer, stasie­bevelvoerder was die Calitzdorp Polisie, was die niggies se familie op pad terug na Oudtshoorn nadat hulle die begrafnis van ’n familielid in Ca­litzdorp bygewoon het.

Die twee niggies het saam met nog vier mense agterin die Volkswagen Caddy-bakkie gesit. Die bakkie het ’n kappie op gehad. Nog ’n familielid wat saam met hulle agterin gesit het, is ernstig beseer en in die George Hospitaal opgeneem.

Jamy-Lee, wat ’n leerder was van die Hoërskool Morester, is deur die skoolhoof, Rudi Sabad, beskryf as ’n opgewekte en lieflike mens. “Sy was ’n pligsgetroue leerder en ’n aangename kind,” het hy aan Die Hoorn gesê.

Godfrey McCallum, skoolhoof van Sacred Heart RK Primêr, het gesê Mia, wat daar op skool was, was ’n uitsonderlike stil maar hardwerkende kind. “Ons het met skok en baie hartseer verneem van haar afsterwe. Sy het altyd met ’n glimlag skool toe ge­kom. Die kinders is ook baie hartseer,” sê hy,

Die skool hou vandag ’n spesiale diens vir die familie en mede-leerders.

’n Saak van strafbare manslag word deur die Calitzdorp Polisie ondersoek.

’n Familielid wat Die Hoorn gekontak het, het gesê die familie verkies om nie met die media te praat nie.

Met ’n besoek aan die niggies se huis was die familie ook nie tuis nie.

Jamy-Lee en Mia word Saterdag om 11:00 saam vanuit die Nicolania­saal begrawe.

Log in with your credentials

Forgot your details?