Tugverhoor vir burgemeester

Deur Liesel le Roux
DIE burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, verskyn later vandeesmaand in ’n tugverhoor van die DA. ’n Kennisgewing in dié verband is verlede Donderdag aan hom oorhandig.

Dit volg na ’n ondersoek deur die DA se Fede­rale Regskommissie na bewerings oor die optrede van Sylvester in sy amp as burgemeester.

Sylvester, wat die DA se burgemeesterskandidaat was in die 2016-verkiesing, was op versoek van die party in Augustus en September vir ses weke met spesiale verlof tydens die ondersoek.

Helen Zille, voorsitter van die DA se Federale Raad, het aan Die Hoorn gesê die DA beskou alle bewerings van wangedrag in ’n ernstige lig en hou alle ampsdraers van die DA aanspreeklik.

“Ons respekteer ook die beginsels van natuurlike geregtigheid en sal seker maak dat die paneel wat deur ons onafhanklike Federale Regskommissie saamgestel word, die burgemeester se weergawe van gebeure onpartydig aanhoor voordat hulle tot ’n beslissing kom.”

Zille sê die DA se tugprosesse word van die party se interne politiek geskei en is so objektief moontlik.

• Inwoners van Oudtshoorn is al geruime tyd bekommerd oor gerugte van spanning tussen die burgemeester en munisipale bestuurder, Allen Paul­se, asook spanning tussen DA-raadslede onderling en verdeeldheid binne die munisipaliteit. Die spanning het oënskynlik sy oorsprong gehad toe Paulse in 2018 twee tydelike personeellede in Sylvester se kantoor afgedank het.

Hulle was die kantoorbestuurder, Elrico van Rooyen, en Deon Britz wat verantwoordelik was vir skakeling/kommunikasie. Na betroubaar ver­neem is, is Van Rooyen afgedank nadat Paulse bewus geraak het dat hy ’n skuldigbevinding van be­drog teen sy naam het. Dit is nie duidelik waar­om Britz afgedank is nie, maar hy is glo ook voor­heen uit ’n munisipale pos in Kaapstad ontslaan.

Log in with your credentials

Forgot your details?