Trane oor skenkings

Lede van die SA Water Warriors wat Oudtshoorn Saterdag besoek het en vrywilligers wat hulle gehelp het. Foto’s: Angelique Erasmus

Hope kos- en waterskenkings wat met trokke en ander voertuie na Oudtshoorn aangery is.

Deur Angelique Erasmus
DIE trane het Saterdag op plase in die Oudtshoorn-distrik gevloei toe tonne kruideniersware, water en veevoer aan boere en plaaswerkers en hul gesinne deur die SA Water Warriors oorhandig is.

Die Water Warriors, ’n nie-winsgewende organisasie, het binne vier weke met die hulp van net agt lede en ’n klomp vrywilligers meer as vyf ton kruideniersware en 140 ton veevoer in Gauteng, Kaapstad en George ingesamel.

Sowat 40 boere en hul gesinne en meer as 80 plaaswerkersgesinne het by die projek baat gevind.
Die produkte wat in Gauteng ingesamel is, is per koerier na Oudtshoorn gestuur, wat die vervoer gratis verskaf het, sê Elmarie Rabie van Oudtshoorn.

“Die droogte het waarlik boere en plaaswerkers op hul knieë,” sê sy.

Die projek vir Oudtshoorn is deur haar en haar man, Marthinus, geïnisieer nadat sy die Water Warriors in 2018 tydens brande in George gehelp het met die vervoer van drinkwater.

“Dit was beslis ’n dag wat aan die hartsnare geroer het, daar was soveel blydskap, trane en ware kameraadskap tussen almal wat deel was van die projek, selfs die wat ontvang het,” sê Rabie.

Volgens Deon Smit, een van die stigterslede van die Water Warriors, het besighede vanoor Suid- Afrika asook plaaslike besighede en inwoners hul hande en harte oopgemaak vir die projek.

Sommige het produkte geskenk en ander kontant waarmee kruideniersware vir gesinne wat in nood is, aangekoop het.

Vragmotors vanuit George en Kaapstad en vrywilligers wat hul eie voertuie gebruik het , het Saterdag omstreeks 12:00 by die Kansa Krale net buite Oudtshoorn op die Mosselbaaipad bymekaar gekom waar al die skenkings afgelaai is.

Dit was ongelooflik om te sien hoe almal saam­werk, bakkies is in- en uitgetrek soos wat die voorraad klaar afgepak is, derduisende liter water is deur jonk en oud van trokke afgelaai, selfs koolkoppe, wortels en sakke botterskorsies is afgepak, lui ’n inskrywing wat op ’n gemeenskaplike WhatsApp-groep gedeel is.

Onder die skenkings was meer as 500 dosyn eiers, 125 kg grondboontjiebotter, meer as ’n ton mieliemeel en meer as 800 blikkies hondekos.

Gesinne en boere van Rooiheuwel, Volmoed, Matjiesrivier, Hazenjacht, Paardebont en De Bad het almal skenkings ontvang.

• ’n Volgende skenking deur die Water Warriors vir Oudtshoorn en die omliggende omgewing sal op 20 Julie uitgedeel word.

Enigiemand wat betrokke wil raak by die projek van die Water Warriors, kan Deon Smit kontak by sel 082 738 2702 of Pieter du Plessis by sel 076 844 6435 of hul Facebook-blad besoek.

Log in with your credentials

Forgot your details?