Trane en emosie in Titus-saak

Magdaleen (Maggie) Titus in ensti­ge gesprek met Henk Carstens, haar regsverteenwoordiger. Dit was ’n moeilike week vir Maggie met die toelating van Justice Mooi se skuld­erkenning en verklaring, getuienis van Sixabilo Klip asook verwysings na haar Vigs-status.  Foto:  Garnett Wicomb

Deur Die Hoorn-verslagspan
TRANE het gister in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn gerol toe Sixabiso Klip wat reeds skuldig bevind is aan medepligtigheid aan die dood van Preston Titus, verskeie persone om ver­gif­nis gevra het.

Klip wat kort na die moord ’n pleit­ooreenkoms met die staat gesluit het en reeds tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is, het Titus se familie verskoning gevra vir sy rol in die moord, en hulle gevra om hom eendag te vergewe as hulle dit in hul harte sal vind. Hy het sy eie familie ook om vergifnis gevra omdat hy hulle te­leur­gestel het. Daarna het hy die Oudtshoorn-gemeenskap verskoning gevra. Klip se ma en ander hofgangers het in hierdie stadium begin huil en die hof is vir vyf minute verdaag. Krete van “Why, Maggie, Why?” is ook in die hof gehoor

Die staat het gister sy saak gesluit. Dit is uitgestel tot Maandag 16 September wanneer die verdediging sy beurt sal kry.

• Die hof het Maandag (9 September) beslis dat ’n bekentenis van nog ’n be­skul­digde, Justice Mooi, toegelaat mag word. Die bekentenis impliseer dat Mag­da­leen (Maggie) Titus haar man se moord tot in die fynste besonderhede beplan het.

Die bekentenis is deur lt kol Eric Jullies van die Thembalethu Polisiekantoor, wat dit afgeneem het, voorgelees. Hierin gee Mooi sy weergawe van gebeure voor, tydens en na die wrede moord op Titus die aand van 2 Desember 2017 in sy slaapkamer in die weermagbasis.

Volgens Mooi het hy, Magdaleen, Masithembe (MJ) January, Xizabiso Klip, Tessa Stuurman en ene Elvis so twee weke voor die beweerde moord in Port Elizabeth ontmoet.

January was vir ’n kerk-“crusade” in Port Elizabeth en het hom meegedeel dat Magdaleen “nie gelukkig” is in haar huwelik nie en van haar man ontslae wil raak. Elvis het hom later ook meegedeel dat Magdaleen se man “uitgehaal” moet word en dat Vusumzi, ” ’n small time crook”, net die regte man is.

Magdaleen het R5 000 in paaiemente by Pep Stores inbetaal vir hulle om na Oudtshoorn te kom. Hy, January en Vusumzi het per taxi na Oudtshoorn gereis met Magdaleen en Klip wat hulle die aand van 1 Desember 2017 by die Oudtshoorn Begraafplaas ontmoet het en hulle na die woning van Natashia Stuurman geneem is. Daar is aan Vusumzi verduidelik hoe die moord gepleeg moes word met Magdaleen wat ook gevra het om nie ’n vuurwapen te gebruik nie.

Sy het in die fynste besonderhede verduidelik dat sy die agterdeur van hul huis vir hulle sou oopmaak nadat sy haar jongste dogter en haar man iets sou ingee wat hulle sou laat slaap. Sy het ook ’n waaier gehad wat ’n geraas sou maak. Verder sou sy ’n selfoon, twee tablette, ’n skootrekenaar en en ’n handsak met R3 500 kontant buite die kombuis op ’n tafeltjie los sodat dit na ’n rooftog moes lyk. Sy het haar man die volgende dag gebel met die nuus dat twee pastore hom sou besoek en hy “baie vriendelik” met hulle moes wees. Die doel hiervan was om die huis deur te kyk en die omgewing te bespied.

Sy het hulle die aand van die moord gebel om te sê: “The coast is clear”.

“Vusumzi is saam met haar die huis binne met ’n hamer en mes, terwyl ek bui­te moes waghou vir sekuriteitspersoneel wat in die omgewing gepatrolleer het.”

“Ons het ook pepersproei gekoop wat gebruik sou word.” Mooi sê hy het later paniekerig geword omdat dit so lank geneem het en Vusumsi gebel.

Op ’n vraag aan Vuzumsi of die man dood is, het hy glo geantwoord: “Ja, ons het hom daar sien lê. Hulle is toe Mosselbaai toe met Vuzumsi wat sy bebloede klere langs die pad uitgetrek en weggegooi het.

Volgens Mooi sou Magdaleen deur Klip R10 000 aan haar man se moordenaar stuur terwyl hy 20 000 sou ontvang.

“Elvis en Tessa (Natashia) is ook geld belowe,” lui Mooi se verklaring.

Mooi sê voorts in sy bekentenis dat hy by die woning van Stuurman gehoor het van R20 miljoen waaragter Magdaleen Titus was.

“Ek het toe besef dat die storie nie gaan oor Maggie wat abuse word nie.”
(Verslagspan: Garnett Wicomb, Angelique Erasmus en Liesel le Roux.)

Log in with your credentials

Forgot your details?