Tot rampgebied verklaar

• Provinsie gereed om hulp te verleen met noodpypleiding vanaf Blossoms-diepwaterprojek
• Slegs water vir 160 dae oor in Raubenheimerdam

Die Raubenheimerdam soos baie dit nog nooit gesien het nie. Dié foto’s wat Maandag geneem is, toon duidelik hoe ver die damvlak reeds gedaal het. Foto’s: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn is gister op grond van die huidige droogte en ’n dreigende waterkrisis tot ’n plaaslike rampgebied verklaar.

Dié besluit is eenparig deur die munisipale raad by ’n spesiale raads­vergadering gister geneem.

Die vlak van die Raubenheimerdam waar Oudtshoorn se drinkwater vandaan kom, het gister op 30,7% ge­staan, met die uitvloei uit die dam wat tans die invloei oorskry.

Inligting wat deur die SA Weer­diens aan die raad beskikbaar gestel is, dui voorts daarop dat die oostelike gedeelte van die Wes-

Kaap – en in die besonder Oudtshoorn – oor die volgende ses maande hoër as gemiddelde temperature met ’n laer as gemid­delde reënval kan verwag.

Dit is nie goeie nuus vir die dorp en omgewing nie en kan daartoe bydra dat die damvlak vinniger daal.

Volgens berekeninge het die Rau­benheimerdam tans slegs genoeg wa­ter vir 160 dae voordat dit ’n vlak bereik waar die water ongeskik sal raak vir menslike gebruik.

Provinsiale taakspan se fokus verskuif na Oudtshoorn
Gister se vergadering is ook bygewoon deur Gerhard Otto, bestuur­der rampbestuur van die Eden Dis­­triks-munisipaliteit, wat ’n voorlegging gedoen het oor die langtermynweer- vooruit­sigte vir Oudtshoorn, asook deur afgevaar­digd­es van die Wes-Kaapse regering.

Die Eden Distriksmunisipaliteit en Wes-Kaapse regering het albei onderneem om Oudtshoorn by te staan met die dreigende waterkrisis.

Volgens Oudtshoorn se burge­mees­ter, Colan Sylvester, het die provinsiale droogtetaakspan se fokus nou na Oudtshoorn verskuif.

Die taakspan is Vrydag by ’n vergadering in Kaapstad deur Otto ingelig oor die situasie op Oudts­hoorn en veral die langtermynweervooruitsigte.

Noodpyplyn vanaf Blossoms
Verskeie noodplanne geniet tans aandag.

Hieronder tel die lê van ’n tydelike noodpyp­leiding van die Blossoms Diepwaterprojek na Oudts­hoorn met behulp van rampfondse van die na-sio­nale en/of provinsiale regering.

Izak Toerien van die Wes-Kaapse Departement Landbou en Grondsake het gesê die provinsie is bereid om die dorp by te staan met die lê van so ’n tydelike pypleiding en dat nasionale rampfondse waarskynlik beskikbaar sal wees om dié koste te dek.

Die tydelike pypleiding sal bo­gronds oor ’n afstand van sowat 23 km gelê word.
Noodkomitee, boetes en waterlekkasies

Onder die verskeie besluite wat gister geneem is, tel die volgende:
• ’n Plaaslike noodkomitee van alle re­levante rolspelers is in die lewe geroep;

• Wetstoepassers sal aangestel word om toe te sien dat inwoners waterbeper­kings gehoorsaam en boetes uitreik waar waterbeperkings oortree word;

• Daar sal gefokus word op die herstel van waterlekke en gebarste pype in die munisipale gebied;
Inwoners word versoek om lekkasies by die munisipaliteit aan te meld; en

• ’n Beroep word gedoen op instansies om nie drinkwater op sportvelde te gebruik nie, maar eerder die munisipaliteit te nader vir die moontlike gebruik van gryswater vir besproeiing.

Spaar water!
Sylvester het ’n beroep op inwoners gedoen om water uiters spaar-samig te gebruik.

“Ons vra ook inwoners om dadelik alle waterlekkasies en gebarste pype by die munisipaliteit by tel 0442033000 aan te meld sodat dit herstel kan word.

“Dit is belangrik dat ons moet besef dat elke druppel water belangrik is en dat die vermorsing van water die waterkrisis tot ’n waterramp kan laat vererger.”  (Lees ook Redakteursbrief)

Log in with your credentials

Forgot your details?