Topvertoning vir 2-jarige se groot mediese koste

Hanjo van Heerden (2). Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
DIE bekende akteur, Frank Opperman, is volgende Donderdag (23 Mei) op Oudtshoorn in die gewilde teaterstuk Donkie te sien as deel van ’n fondsinsamelingsveldtog vir die mediese koste van ’n tweejarige seuntjie van die dorp.

Donkie is geskryf deur Dana Snyman en handel oor die daaglikse uitdagings waarmee ’n skoolhoof en skool te make het – op so ’n manier dat die hele gehoor deel word van die proses.

Klein Hanjo van Heerden (2) is op 11 maande met serebrale verlamming (periventrikulêre leukomalasie) gediagnoseer. Hy het ’n sigprobleem as gevolg van die serebrale verlamming en ly ook aan ’n vorm van epilepsie.

Hy moet weekliks fisio-, arbeids- en spraaktera­pie ontvang wat sy ouers, Malem en Celize, se mediese fonds al in April uitgeput het.

Malem is ’n onderwyser by Langenhoven Gimnasium terwyl Celize voltyds na Hanjo omsien.

Klein Hanjo se ouers vertel dat hul seuntjie op 33 weke gebore is ná ’n lang en gekompliseerde geboorteproses.

Ná drie weke in die neonatale eenheid is hy huis toe gestuur, waar hulle verskeie uitdagings gehad het.

Op ses maande het hulle agtergekom dat sy fisieke ontwikkeling ’n agterstand toon, en ná nog drie maande van intensiewe arbeidsterapie was daar steeds net beperkte vordering.

Die Van Heerdens is reeds besig met hul vierde aansoek om alternatiewe mediese voordele.

Volgens Celize het Hanjo se pediatriese neuroloog ook aanbeveel dat hy spalke (splints) moet kry om sy voetjies reg te stel en te help met balans, en sal hy later ’n loopraam nodig hê.

“Hoewel Hanjo se vordering ver agter is, is ons opgewonde oor wat die toekoms vir ons inhou.

“Hy verskaf elke dag baie liefde en vreugde aan ons,” sê Celize.

• Kaartjies vir Donkie – een van die gewildste stukke by die afgelope KKNK, is beskikbaar by Malem van Heerden (by Langenhoven Gimnasium) of Celize (082 415 4458) teen R100 per persoon.

Log in with your credentials

Forgot your details?