Titus-moordsaak – vier se verhoor wag steeds

Magdaleen Titus verlaat Woensdag die Oudtshoorn Landdroshof waar sy saam met Masithembe January (MJ) en Natasha Stuur­man in ’n volgepakte hofsaal verskyn het in verband met die moord op Preston Titus begin Desember 2017. Foto: Angelique Erasmus

Natashia Stuurman ver­laat Woensdag die Oudtshoorn Land­dros- ­­hof. Foto:  Angelique Erasmus
Onder: MJ January.  Foto Facebook

Deur Garnett Wicomb
DIE vier verdagtes wat van moord op die soldaat, Preston Titus, aangekla word, het weer Woensdag vlugtig in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.

Titus se weduwee, ANC-raadslid Magdaleen (Maggie) Titus, wat glo die baasbrein agter die moord was, haar boesemvriendin, Natashia Stuurman, Masimthembe “MJ” January en Justice Mooi word van moord met voorbedagte rade en die besit van gevaarlike wapens aangekla.

Preston Titus is die aand van 4 Desember 2017 in sy slaapkamer in die weermagbasis op Oudts­hoorn vermoor.

Die vyfde verdagte, Sixabesu Klip, het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is reeds vroeër tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die twee vroue het reeds vroeër borgtog van onderskeidelik R30 000 en R15 000 gekry.

January, wat in April in Port Elizabeth aangekeer en borgtog in die Oudtshoorn Landdroshof geweier is, is in September in die |Kaapse Hooggeregshof borgtog van R10 000 toegestaan. Die drie was vroegoggend sonder Mooi in die beskuldigdebank.
Mooi wat vir sy lewe vrees en vir ’n tyd in George aangehou was, het eers later op sy eie verskyn omdat hy toe eers van die Prins Albert Gevangenis gebring is waar hy die laaste tyd aangehou word.

Dit volg nadat hy glo in ’n bakleiery in die tronk op George betrokke was.

Die staat en die verdediging het ooreengekom dat die saak voorlopig vir verskyning in die streekhof en ’n verhoordatum in die

Kaapse Hooggeregshof asook vir die finalisering van die akte van beskuldiging, voorlopig tot 29 Oktober uitge­stel word.

Die versoek is deur landdros Roelf Konstabel toegestaan.

Hy het die borgtog en borgvoorwaardes van Titus, Stuurman en January daarna verleng en gelas dat Mooi tot dan in aanhouding bly.

• Angelique Erasmus berig dat Titus, Stuurman en January al drie Woensdag aandag getrek het met hul deftige uitrustings.
Titus het ’n pienk hemp by ’n netjiese blou de­nimbroek en denimbaadjie gedra, met bypassende pienk tosseloorbelle, houtkrale en stewels.

January was geklee in ’n blou snyerspak met ’n rooi-en-pers blokkiesmotief, pers roos op die lapel en ’n pienk en pers das, terwyl Stuurman, wat vier maande gelede die lewe geskenk het aan ’n babadogter, ’n treffende en kleurvolle kralehals­snoer gedra het by haar swart rok en leerbaadjie en bruin enkelstewels.

Log in with your credentials

Forgot your details?