Titus-getuie ook vas vir huurmoord van boer

’n Advertensie op Masi­them­be (MJ) January se Face­book-bladsy van ’n kon­ferensie waar hy en Elvis Ga­leboe sou optree.

Deur Angelique Erasmus
’N STAATSGETUIE in die opspraakwekkende Preston Titus-moordsaak, Elvis Galeboe (31), is Vrydag in hegtenis geneem in verband met die huurmoord op ’n boer in Bloemfontein.

Die boer, Ntau Lucas Mokoena (51), is in Julie voor sy vrou doodgeskiet. Galeboe het Maandag in die Bloemfonteinse Landdroshof op aanklag van sameswering om moord te pleeg verskyn.

Galeboe moet nog in die Titus-saak op Oudts­hoorn getuig. Preston Titus is in die oggend van 2 Desember 2017 in sy huis in die weermag­woonbuurt op Oudtshoorn vermoor.

Daar word ook beweer dat die moord op Pres-ton Titus ’n huurmoord was.

Galeboe se kontak met beskuldigdes
In Maart vanjaar het die selfoonanalis, Anna-Marie van Niekerk, in die Rondgaande Hof op Oudtshoorn getuig dat Magdaleen Titus, egge­noot van Preston Titus en een van die beskuldigdes in sy moordsaak, en Galeboe vanaf 4 November tot 28 November 2017 breedvoerige selfoonkontak gehad het.

Nog ’n beskuldigde in die saak, Masithembe January (MJ), het in Maart in ’n verklaring wat deur die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, in die hof voorgelees is, aangedui dat hy en Galeboe in Oktober 2017 op Oudtshoorn was vir ’n reeks kerkdienste waar MJ vir Magdaleen Titus ontmoet en hulle vriende geword het.

MJ verwys in Facebook-inskrywings na Galeboe as sy “spirituele vader” en na homself as Galeboe se “spirituele seun”. Hulle werk reeds vanaf 2016 saam as profete.

MJ sê verder in sy verklaring dat hy by Galeboe verneem het dat Preston Titus vermoor is. Hy was in Natashia Stuurman, ’n vriendin van Magdeleen Titus, se huis op Oudtshoorn toe die nuus deur Galeboe aan hom oorgedra is.

Galeboe se regsverteenwoordiger, Adriaan Janse van Rensburg, het gister aan Die Hoorn gesê hy is daarvan bewus dat sy kliënt voorheen by ’n soortgelyke misdaad betrokke was, maar dat hy nie seker is waar die misdaad plaasgevind het nie.

Galeboe was volgens kapt Sam Tselanyane, kommunikasiebeampte van die Stilfontein Polisie, in April 2016 ’n verdagte in ’n mense-roofsaak in Mothibistad naby Kuruman, en is later op Stilfontein saam met drie ander mans op aanklag van moord in hegtenis geneem. ’n Dag voor die saak moes begin, is die staat se hoofgetuie egter vermoor en die saak van die rol geskrap.

Galeboe doen vandag (Donderdag 8 Augustus) in die Bloemfonteinse Landdroshof aansoek om borgtog.

Magdaleen Titus bedank as raadslid
Magdaleen Titus het intussen as ANC-raadslid van Oudtshoorn bedank. Volgens Major Sokopo, die Suid-Kaapse streeksekretaris van die ANC, het die party Titus genader en in ge­sprek met haar getree oor haar pos as raadslid.

“Ons het gevoel dat dit nie regverdig teenoor die Oudtshoorn-gemeenskap is om ’n raadslid te hê wat meer op Worcester as op Oudtshoorn is nie,” sê hy. Titus woon sedert die begin van die hofgeding meestal op Worcester.

Titus het ingestem om as raadslid te bedank.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woord­voer­­der van die Oudtshoorn Munisipaliteit, wag die munisipale bestuurder, Allen Paulse, tans op terugvoer van die Onafhanklike Verkie­sings­kom­missie (OVK) oor wie Titus gaan vervang.

• Die hofsaak teen Titus en haar mede-beskul­digdes, Natashia Stuurman, MJ en Justice Mooi, hervat op 28 Augustus op Oudts­hoorn. Die saak is in Mei uitgestel, sodat Titus en Stuurman hul geldprobleme kon oplos en hul regsverteen­woordigers betaal.

Log in with your credentials

Forgot your details?